Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39:14-29 Bybel vir Almal (ABA)

14. Daar was twaalf edelstene, een edelsteen vir elke seun van Jakob. Dit was ook die name van die twaalf stamme van Israel. Hulle het op elke edelsteen een van die name geskryf, soos ’n mens ’n naam op ’n ring skryf.

15. Die kleremakers het kettinkies van skoon goud vir die borssak gemaak, en hulle het die kettinkies gedraai soos ’n tou.

16. Hulle het twee kassies van goud gemaak en twee goue ringe. Hulle het die ringe vasgesit aan die twee boonste hoeke van die borssak.

17. Hulle het die twee goue kettinkies aan hierdie twee ringe vasgesit.

18. Hulle het die ander twee punte van die kettinkies vasgesit aan die twee kassies, en hulle het dit vasgewerk aan die skouerbande, aan die voorkant van die skouer-kleed.

19. Hulle het ook twee goue ringe gemaak en hulle het dit vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant van die skouer-kleed.

20. Die kleremakers het ook twee ander goue ringe gemaak en hulle het dit vasgesit voor aan die twee skouerbande van die skouer-kleed, net bokant die belt.

21. Hulle het toe ’n blou woldraad geneem en hulle het die ringe van die borssak vasgebind aan die ringe van die skouer-kleed. Dit was bokant die belt van die skouer-kleed, sodat die borssak vas was aan die skouer-kleed. Hulle het alles gedoen soos die Here vir Moses gesê het.

22. Die kleremakers het die oorkleed vir die skouer-kleed gemaak van een stuk blou wol-materiaal.

23. In die middel was daar ’n gat en daar was ’n sterk rand rondom die gat sodat dit nie kon skeur nie.

24. Hulle het granate gemaak van blou, pers en rooi wol-materiaal en goeie linne-materiaal. Hulle het die granate vasgewerk op die soom van die oorkleed.

25. Hulle het klokkies van skoon goud gemaak en hulle het die klokkies vasgewerk tussen die granate.

26. Daar was ’n klokkie langs elke granaat op die soom van die oorkleed. Die priester moes dit dra wanneer hy in die tempel werk. Hulle het dit gedoen soos die Here vir Moses gesê het.

27. Die kleremakers het vir Aäron en sy seuns rokke gemaak van linne-materiaal.

28. Hulle het die tulband en kopdoeke gemaak van linne-materiaal en ook die broeke van goeie linne-materiaal.

29. Die kleremakers het die skouer-serp gemaak van goeie linne-materiaal en van blou, pers en rooi wol-materiaal, soos die Here vir Moses gesê het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 39