Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 36:4-18 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die ambagsmanne wat die werk by die tempel gedoen het, het almal gekom, elkeen het gekom van die plek waar hy gewerk het.

5. Hulle het vir Moses gesê: “Die mense bring meer as wat nodig is vir die werk wat die Here gesê het ons moet doen.”

6. Moses het gesê hulle moet vir almal in die kamp sê niemand moet nog presente vir die tempel gee nie. Die mense het toe nie weer presente gebring nie.

7. Die presente wat hulle klaar gebring het, was genoeg vir al die werk, en daar het ook nog oorgebly.

8. Al die goeie ambagsmanne het die tempel-tent begin maak. Hulle het tien stukke materiaal geneem. Dit was goeie linne-materiaal en blou, pers en rooi wol-materiaal. Hulle het gerubs op die materiaal geborduur.

9. Elke stuk materiaal was 28 el lank en vier el breed.

10. Hulle het eers vyf stukke materiaal aan mekaar vasgewerk, en toe die ander vyf stukke.

11. Hulle het blou lissies gemaak van wol-materiaal en hulle het dit vasgewerk aan die een kant van die materiaal. Hulle het dieselfde gedoen met die ander stuk materiaal.

12. Hulle het 50 lissies vasgewerk aan die een stuk materiaal en 50 lissies aan die ander stuk materiaal. Die lissies was ewe ver van mekaar.

13. Hulle het ook 50 goue hakies vasgewerk aan elke stuk materiaal sodat die hakies in die lissies kon haak, en sodat die stukke materiaal van die tempel-tent vas aan mekaar kon wees.

14. Toe het hulle ’n seil gemaak van bokhaar-materiaal. Hulle moes die seil bo-oor die tempel-tent sit. Hulle het die seil van elf stukke bokhaar-materiaal gemaak.

15. Elke stuk materiaal was 30 el lank en vier el breed.

16. Hulle het eers vyf stukke materiaal aan mekaar vasgewerk en toe het hulle die ander ses stukke aan mekaar vasgewerk.

17. Hulle het 50 lissies vasgewerk aan die kant van die een stuk materiaal en hulle het ook 50 lissies vasgewerk aan die kant van die ander stuk materiaal.

18. Hulle het 50 brons hakies vasgewerk om die tent se stukke materiaal aan mekaar vas te maak, sodat dit een tent kon wees.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 36