Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25:19-29 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die een gerub moet op die een kant van die deksel wees en die ander gerub op die ander kant. Die gerubs en die deksel moet een stuk goud wees.

20. Die gerubs se vlerke moet oop wees sodat hulle vlerke die deksel toemaak. Hulle gesigte moet na mekaar toe wees en hulle moet na die deksel kyk.

21. In die kis moet julle die tien gebooie sit wat Ek vir julle sal gee, en julle moet die deksel op die kis sit.

22. As Ek vir jou iets wil sê, dan sal Ek hier aan jou verskyn. Ek sal bokant die deksel wees, tussen die twee gerubs wat op die kis is waarin die tien gebooie is. Ek sal daar met jou praat en vir jou alles sê wat jy vir die Israeliete moet sê.”

23. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n tafel van doringhout maak. Dit moet twee el lank, een el breed en een en ’n halwe el hoog wees.

24. Julle moet dit oortrek met skoon goud en julle moet ook nog ’n rand van goud rondom die tafel se kante sit.

25. Julle moet ’n rand rondom die tafel vassit. Die rand moet so breed soos ’n hand wees, en aan die rand moet nog ’n rand van goud wees.

26. Julle moet ook vier goue ringe maak en julle moet die ringe vassit onder aan die vier hoeke van die tafel, een ring by elke tafel-poot.

27. Die ringe moet naby die rand wees sodat julle dra-pale daardeur kan steek om die tafel te dra.

28. Julle moet die dra-pale van doringhout maak en julle moet dit oortrek met goud. Julle moet die tafel met die dra-pale dra.

29. Julle moet ook skottels en panne en kanne en bakke maak. Julle moet die drank-offers daarmee op die altaar gooi. Julle moet dit alles van skoon goud maak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 25