Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:11-20 Bybel vir Almal (ABA)

11. Julle moet versigtig wees, julle moenie julle God die Here vergeet nie, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee.

12. Wanneer julle eet en genoeg kry en mooi huise bou en daarin woon,

13. en julle het baie beeste en skape en bokke, en julle silwer en goud word baie, alles wat julle het, word baie,

14. dan moet julle nie hoogmoedig word en julle God die Here vergeet nie. Hy het julle uit die land Egipte gebring, die land waar julle slawe was.

15. Hy het julle deur die groot en gevaarlike woestyn gelei, die woestyn waar slange op die grond seil en ook vlieg, waar daar skerpioene is en waar alles droog is, daar is niks water nie. Hy het vir julle water laat uitkom uit die kliprots.

16. Hy het vir julle manna in die woestyn gegee om te eet, manna is iets wat julle voorvaders nie geken het nie. Hy wou julle verneder om julle te toets, maar Hy wou later goed doen aan julle.

17. Wanneer julle eet en genoeg het, dan moet julle nie sê dat julle dit alles self gedoen het nie, moenie sê julle het al hierdie goed bymekaargemaak met julle eie krag nie.

18. Nee, julle moet onthou dat dit julle God die Here is wat vir julle die krag gegee het om alles bymekaar te maak. Hy het dit gedoen sodat die verbond altyd daar sal wees, die verbond wat Hy met julle voorvaders gemaak het.

19. As julle nou regtig julle God die Here vergeet en julle gaan dien ander gode en julle buig voor hulle, dan waarsku ek nou vir julle: Julle sal almal sterf, dit is seker.

20. As julle ongehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal julle sterf soos die volke wat Hy laat sterf het om plek te maak vir julle.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8