hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het al die Israeliete geroep en vir hulle gesê: “Israeliete, julle moet luister na die wette wat ek vandag vir julle gee, julle kan dit self hier hoor. Julle moet die wette leer en julle moet doen wat die wette sê.

2. Ons God die Here het by Horeb-berg ’n verbond gemaak met ons.

3. Hy het hierdie verbond met óns gemaak, ons almal wat vandag hier lewe, Hy het nie die verbond met ons voorvaders gemaak nie.

4. Die Here self het met julle gepraat uit die vuur op die berg.

5. Ek het daardie dag tussen die Here en julle gestaan om vir julle te sê wat die Here sê, want julle was bang vir die vuur, julle het nie teen die berg opgegaan nie. Die Here het gesê:

6. ‘Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy ’n slaaf was.

7. “ ‘Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God.

8-9. “ ‘Jy mag nie vir jou ’n beeld maak en voor hom buig en hom dien nie. Jy mag nie ’n beeld maak wat lyk soos iets bo in die hemel of soos iets onder op die aarde of soos iets in die water onder die aarde nie. Ek is jou God die Here, jy moet net vir My aanbid. Ek straf die kinders as die pa sonde gedoen het. Ek straf ook sy kinders en kleinkinders as hy My haat en ongehoorsaam is aan My.

10. Maar as iemand lief is vir My en gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en sy kinders, 1 000 geslagte lank.

11. “ ‘Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is.

12. “ ‘Jy moet onthou dat die Sabbatdag ’n gewyde dag is, jou God die Here het dit vir jou gesê.

13. Jy moet ses dae lank werk en alles doen wat jy moet doen,

14. maar die sewende dag is die Sabbatdag van jou God die Here. Dan mag jy niks werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of jou slavin of jou bees of jou donkie, of jou ander diere, of die vreemdelinge wat by jou woon nie, sodat jou slaaf en slavin ook kan rus, soos jy.

15. Jy moet onthou dat jy ook ’n slaaf was in die land Egipte en dat jou God die Here jou van daar gebring het met sy groot krag. Dit is hoekom jou God die Here sê dat jy die Sabbatdag moet vier.

16. “ ‘Jy moet jou ouers respekteer, die Here het vir jou gesê om dit te doen. Dan sal jy lank lewe en dit sal goed gaan met jou in die land wat jou God die Here vir jou gee.

17. “ ‘Jy mag nie iemand vermoor nie.

18. “ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

19. “ ‘Jy mag nie steel nie.

20. “ ‘Jy mag nie leuens vertel oor ander mense nie.

21. “ ‘Jy mag nie ’n ander man se vrou vir jouself wil hê nie. Jy mag nie ’n ander mens se huis vir jouself wil hê nie, ook nie sy grond, of sy slaaf of slavin, of sy bees of sy donkie, of enige iets wat aan ’n ander mens behoort nie.’

22. “Die Here het hierdie woorde hard en duidelik gesê vir julle hele volksvergadering, en Hy het nie nog iets anders gesê nie. Dit was op die berg, en Hy het gepraat uit die vuur en uit die donker wolk. Hy het daarna die woorde op twee plat klippe geskryf en Hy het dit vir my gegee.

23. Maar toe die berg so brand en toe julle sy stem hoor praat uit die donker, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom

24. en gesê: ‘Luister, die Here, die Groot Koning, het aan ons verskyn, ons het Hom gehoor praat uit die vuur. Vandag het ons gesien dat ’n mens kan aanhou lewe wanneer God met hom praat.

25. Maar as ons moet aanhou om die stem van ons God die Here te hoor, dan sal ons sterf, ons sal brand in hierdie groot vuur. En ons wil nie sterf nie.

26. Want daar is niemand op die aarde wat ook soos ons die stem gehoor het van die God wat lewe, en wat daarna aangehou lewe het nie.

27. Moses, jý moet nader gaan en gaan luister na wat ons God die Here sê. En dan moet jý vir ons alles sê wat ons God die Here vir jou gesê het. Ons sal gehoorsaam wees en doen wat Hy sê.’

28. “Die Here het gehoor wat julle vir my gesê het en Hy het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het, hulle is heeltemal reg.

29. Ek wens hulle wou My altyd so dien en altyd doen wat my gebooie sê, sodat dit goed kan gaan met hulle en hulle kinders.

30. Gaan sê vir hulle dat hulle moet teruggaan na hulle tente.

31. Maar jy moet hier by My bly sodat Ek vir jou al die gebooie en die wette kan gee wat jy vir hulle moet leer. Hulle moet dit doen in die land wat Ek vir hulle gee om dit vir hulleself te vat.’

32. “Julle moet versigtig wees en alles doen wat julle God die Here vir julle gesê het. Julle moet dit presies só doen

33. en op die pad loop wat julle God die Here vir julle sê. Dan sal julle aanhou lewe en dit sal goed gaan met julle. Julle sal lank woon in die land wat julle vir julleself sal vat.”