hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete moet die lewe kies

1. Moses het gesê: “Ek het vir julle gesê dat die Here julle sal seën of dat Hy julle sal vervloek. Al hierdie dinge sal met julle gebeur, en julle sal tussen al die volke woon waarnatoe die Here julle laat gaan. Dan sal julle onthou

2. en julle sal terugkom na die Here, julle sal met julle hele hart gehoorsaam wees aan Hom en julle sal doen soos ek vandag vir julle sê, julle en julle kinders.

3. Dan sal die Here dit weer goed laat gaan met julle. Hy sal jammer wees vir julle en Hy sal julle weer bymekaarmaak uit al die volke. Julle God die Here het julle na daardie volke toe laat gaan.

4. Ook as julle in die verste plekke op die aarde is, sal julle God die Here julle daarvandaan bymekaarmaak en julle terugbring.

5. Julle God die Here sal julle bring na die land wat julle voorvaders vir hulleself gevat het, en julle sal die land vir julleself vat. Die Here sal dit beter laat gaan met julle as met julle voorvaders en Hy sal julle meer laat word as hulle.

6. Julle God die Here sal julle harte en die harte van julle nageslag so verander dat julle lief sal wees vir Hom met julle hele hart. Dan sal julle aanhou lewe.

7. Julle God die Here sal julle vyande vervloek, Hy sal ook die mense vervloek wat vir julle haat en wat vir julle volg en jaag.

8. Julle self sal weer gehoorsaam wees aan die Here en julle sal alles doen wat Hy wil hê, alles wat ek vandag vir julle sê.

9. Julle God die Here sal dit baie goed laat gaan met alles wat julle doen. Julle self en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees, want dit sal weer lekker wees vir die Here om goed te doen aan julle, soos dit ook vir Hom lekker was om goed te doen aan julle voorvaders.

10. Maar dan moet julle gehoorsaam wees aan julle God die Here, julle moet doen wat sy wette sê, die wette wat in hierdie wetboek geskryf is. Julle moet met julle hele hart terugkom na julle God die Here.

11. Want hierdie wette wat ek vandag vir julle gee, is nie te moeilik vir julle nie, julle sal dit alles kan doen.

12. As hierdie wette in die hemel was, dan sou iemand moes opgaan na die hemel om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen.

13. As die wette oorkant die see was, dan sou iemand moes oorgaan na die ander kant om dit vir ons te kry sodat ons kan hoor wat die wette sê en sodat ons dit kan doen.

14. Maar nee, die woorde van hierdie wette is baie naby julle, dit is in julle monde en in julle harte, julle kan dit doen.

15. Kyk, ek het vandag vir julle gesê wat julle moet doen sodat dit goed kan gaan met julle en sodat julle sal aanhou lewe. Ek het ook vir julle gesê dat as julle verkeerd doen, dan sal dit sleg gaan met julle en julle sal sterf.

16. Ek sê vandag vir julle: Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet doen wat sy wette sê sodat julle kan aanhou lewe en baie kan word. Dan sal julle God die Here julle seën in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.

17. Maar as julle ontrou word aan die Here en nie gehoorsaam is nie, en as mense julle verlei sodat julle voor ander gode buig en hulle dien,

18. dan sê ek vandag vir julle dat julle almal sal sterf, julle almal. Julle sal nie lank lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier nie, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te gaan vat.

19. Ek roep vandag die hemel en die aarde om getuies te wees teen julle. Ek het vir julle gesê wat julle moet doen as julle wil lewe, ek het ook gesê wat julle moet doen as julle wil sterf. Ek het vir julle gesê hoe die Here julle sal seën, en ek het ook gesê hoe Hy julle sal vervloek. Julle moet kies om te lewe, julle en julle nageslag moet dit kies.

20. Julle moet kies om lief te wees vir julle God die Here, om gehoorsaam te wees aan Hom, om altyd naby Hom te wees, want dan sal julle aanhou lewe en dan sal julle lank woon in die land wat die Here belowe het om vir julle voorvaders te gee, vir Abraham, vir Isak en vir Jakob.”