hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 23 Bybel vir Almal (ABA)

Mense wat nie in die volksvergadering mag kom nie

1. Moses het gesê: “As mense ’n man se geslagsorgaan stukkend geslaan of afgesny het, dan mag hy nie in die volksvergadering van die Here kom nie.

2. Partymaal het ’n man en ’n vrou seks, maar hulle mag dit nie doen nie. As hulle ’n kind kry, dan mag daardie kind nie in die volksvergadering van die Here kom nie. Hulle nageslag mag ook nie in die volksvergadering van die Here kom nie, tot in die tiende geslag.

3. ’n Ammoniet en ’n Moabiet mag nie in die volksvergadering van die Here kom nie. Hulle nageslag mag ook nie in die volksvergadering van die Here kom nie, tot in die tiende geslag.

4. Want die Ammoniete en Moabiete wou nie vir julle kos en water gee toe julle uit Egipte gekom het nie. Die koning van Moab het ook vir Bileam seun van Beor gehuur om julle te vervloek. Bileam het gekom van die stad Petor in die land Mesopotamië,

5. maar julle God die Here wou nie doen wat Bileam gevra het nie, julle God die Here het vir Bileam gesê hy mag julle nie vervloek nie, Bileam moes julle seën. Julle God die Here het dit gedoen omdat Hy lief is vir julle.

6. Julle mag nooit die Ammoniete en die Moabiete help sodat hulle vrede het en dit goed gaan met hulle nie.

7. Maar julle mag nie die Edomiete verneder nie, want hulle is familie van julle. Julle mag ook nie die Egiptenaars verneder nie, want julle was vreemdelinge in hulle land.

8. Kinders van die derde geslag van Edomiete en Egiptenaars mag in die volksvergadering van die Here kom.”

Wanneer die Israeliete in ’n kamp is, dan moet die kamp gewyd bly

9. “Wanneer julle in ’n kamp woon omdat julle oorlog gaan maak teen vyande, dan moet julle oppas, julle moet niks doen wat verkeerd is nie.

10. Wanneer daar in die nag met ’n man iets gebeur het wat hom onrein laat word, dan moet hy uit die kamp gaan, hy mag nie in die kamp bly nie.

11. Wanneer dit aand word, dan moet hy hom was, en wanneer die son ondergaan, dan mag hy terugkom in die kamp.

12. Julle moet buite die kamp ’n plek maak wat julle kan gebruik soos ’n toilet en julle moet daarnatoe gaan wanneer iemand moet gaan ontlas.

13. Die persoon wat daarnatoe gaan, moet ’n tentpen saamneem, en wanneer hy klaar gesit het, moet hy ’n gat grawe en sy ontlasting toemaak.

14. Julle God die Here gaan saam met julle in julle kamp om julle te red en om julle te laat wen teen julle vyande. Daarom moet julle kamp gewyd wees, sodat die Here nie iets sal sien waarvan Hy nie hou nie, want dan sal Hy weggaan van julle.”

Slawe wat wegvlug van hulle eienaars

15. “Wanneer slawe wegvlug van hulle eienaars en hulle kom na julle toe, dan mag julle nie die slawe teruggee vir hulle eienaars nie.

16. Die slawe mag by julle woon waar hulle wil, hulle mag woon in julle stede, op enige plek wat hulle kies. Julle mag hulle nie laat swaarkry nie.”

Tempel-prostitute

17. “’n Israelitiese vrou of man mag nie ’n tempel-prostituut wees nie.

18. Julle mag nie die beloning van ’n prostituut of die geld wat ’n mansprostituut kry, in die tempel gebruik om ’n gelofte te betaal nie. Die Here haat altwee.”

Rente

19. “Julle mag nie vir Israeliete sê hulle moet rente betaal wanneer julle geld of kos of enige iets vir hulle leen nie.

20. Jy mag sê mense wat nie Israeliete is nie, moet rente betaal, maar julle mag nie vir Israeliete sê hulle moet rente betaal nie. As julle gehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal Hy julle seën in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”

Geloftes

21. “Wanneer jy ’n gelofte gemaak het aan die Here, dan moet jy dadelik doen wat jy belowe het, want jou God die Here wil hê jy moet dit doen. As jy dit nie doen nie, dan doen jy sonde.

22. Maar as jy nie ’n gelofte maak nie, dan sal jy nie sonde doen nie.

23. Jy moet doen wat jy gesê het, jy het self besluit om ’n gelofte aan die Here te maak en jy het dit self gesê.”

Wingerde en koringlande

24. “Wanneer jy in iemand se wingerd kom, dan mag jy so baie druiwe eet soos jy wil, jy mag eet totdat jy genoeg het, maar jy mag nie druiwe in jou sak saamneem nie.

25. As iemand nog nie sy koring afgesny het nie, en jy kom in sy koringland, dan mag jy koring-are pluk met jou hand maar jy mag nie die koring afsny met ’n sekel nie.”