Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:6-17 Bybel vir Almal (ABA)

6. Moses het vir hulle gesê: “Ons God die Here het self by Horeb-berg vir ons gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. Julle moet nou weggaan. Julle moet verder gaan na die Bergland van die Amoriete en na die ander lande daar naby, na die Jordaan-vallei, die Bergland, die Laeveld, die Suid-land en die Seekus, die land van die Kanaäniete en die Libanon-berg. Julle moet gaan tot by die groot rivier, die Eufraat-rivier.

8. Ek gee nou die land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here het vir julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy die land vir hulle en hulle nageslag sal gee.”

9. Moses het vir hulle gesê: “Ek het in daardie tyd vir julle gesê dat ek alleen nie julle leier kan wees nie.

10. Julle God die Here het julle ’n groot volk gemaak, julle is nou so baie soos die sterre in die lug.

11. Ek bid dat die Here, die God van julle voorvaders, julle nog meer sal maak, 1 000 maal meer, en dat Hy julle sal seën soos Hy belowe het.

12. Maar ek alleen kan nie oordeel wanneer julle probleme het en twis nie.

13. Julle moet ’n paar wyse en verstandige manne kies uit elke stam, manne wat sal weet wat om te doen. Dan sal ek hulle aanstel om julle leiers te wees.

14. “Julle het vir my gesê: ‘Dit is goed, ons sal doen wat jy gesê het.’

15. “Julle stamhoofde was wyse manne wat geweet het wat om te doen. Ek het hulle aangestel om julle leiers te wees. Party moes leiers wees van 1 000 mense, party was leiers van 100 mense en party was leiers van tien mense. Party moes voormanne wees in die stamme.”

16. “Ek het in daardie tyd vir julle regters gesê: ‘Julle moet goed luister na wat almal sê en julle moet reg oordeel wanneer party Israeliete mekaar beskuldig of wanneer ’n Israeliet en ’n vreemdeling mekaar beskuldig.

17. Julle moenie téén party mense wees en vír ander mense wees nie, julle moet luister na belangrike én na onbelangrike mense. Julle moet vir niemand bang wees nie, want dit is God wat sal sê hoe julle moet oordeel. En as iets te moeilik is vir julle, dan moet julle dit vir my kom sê, dan sal ek luister na wat die mense sê.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1