Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:15-27 Bybel vir Almal (ABA)

15. “Julle stamhoofde was wyse manne wat geweet het wat om te doen. Ek het hulle aangestel om julle leiers te wees. Party moes leiers wees van 1 000 mense, party was leiers van 100 mense en party was leiers van tien mense. Party moes voormanne wees in die stamme.”

16. “Ek het in daardie tyd vir julle regters gesê: ‘Julle moet goed luister na wat almal sê en julle moet reg oordeel wanneer party Israeliete mekaar beskuldig of wanneer ’n Israeliet en ’n vreemdeling mekaar beskuldig.

17. Julle moenie téén party mense wees en vír ander mense wees nie, julle moet luister na belangrike én na onbelangrike mense. Julle moet vir niemand bang wees nie, want dit is God wat sal sê hoe julle moet oordeel. En as iets te moeilik is vir julle, dan moet julle dit vir my kom sê, dan sal ek luister na wat die mense sê.’

18. “Ek het toe vir julle gesê wat julle alles moet doen.”

19. “Ons het weggegaan van Horeb-berg en ons het deur daardie groot woestyn gegaan, julle weet hoe bang ons daar was. Ons het op die pad geloop na die Bergland van die Amoriete en ons het by die stad Kades-Barnea gekom.

20. Ek het toe vir julle gesê: ‘Julle het gekom by die Bergland van die Amoriete, die land wat julle God die Here vir julle gee.

21. Julle God die Here gee hierdie land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here, die God van julle voorvaders, het gesê julle moet dit doen. Julle moenie bang wees nie.’

22. “Maar toe het julle almal na my toe gekom en gesê: ‘Kom ons stuur eers manne wat oral in die land kan gaan kyk en wat vir ons kan kom sê op watter pad ons moet gaan en hoe die stede is waar ons sal kom.’

23. “Ek het gedink dit is goed en ek het twaalf manne gekies, een man uit elke stam.

24. Die manne het weggegaan en hulle het deur die Bergland gegaan. Hulle het tot by die Druiwe-vallei gegaan en hulle het gekyk hoe die land is.

25. Hulle het van die vrugte van die land saamgebring en vir ons kom sê: ‘Dit is ’n goeie land wat ons God die Here vir ons gee.’

26. “Maar julle wou nie gaan nie, julle was opstandig teen julle God die Here.

27. Julle het in julle tente gesit en kla. Julle het gesê: ‘Die Here haat ons, daarom het Hy ons uit die land Egipte gebring om ons vir die Amoriete te gee sodat hulle ons kan doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1