hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9

Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 7 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here wys vir Amos sprinkane

1-2. Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het baie sprinkane gemaak. Dit was nadat die mense die gras afgesny het vir die koning se perde. Die gras het weer begin groei en dit het groen geword. Die sprinkane het al die groen plante in die land begin opvreet. Ek sê toe: “Here, vergewe hulle asseblief! Die Israeliete is min, hulle sal nie kan aanhou lewe nie.”

3. Die Here het toe besluit om nie die sprinkane te maak nie. Hy het gesê: “Dit sal nie gebeur nie.”

Die Here wys vir Amos vuur

4. Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het ’n vuur laat brand om die Israeliete te straf. Die vuur het die see droog gebrand en dit het begin om die land ook te verbrand.

5. Toe sê ek: “Here, stop die vuur asseblief! Die Israeliete is min, hulle sal nie kan aanhou lewe nie.”

6. Die Here het toe besluit om nie die vuur te laat brand nie. Hy het gesê: “Dit sal nie gebeur nie.”

Die Here sal nie weer die Israeliete se sonde vergewe nie

7. Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het by ’n regop muur gestaan en daar was ’n skietlood in sy hand.

8. Hy het vir my gevra: “Amos, wat sien jy?”Ek het gesê: “Ek sien ’n skietlood.”Toe het die Here gesê: “Ek sal nou met my volk, die Israeliete, doen soos ’n mens doen met ’n muur wat nie regop is nie. Ek sal nie weer hulle sonde vergewe nie.

9. Ek sal die offer-plekke afbreek wat die Israeliete gebou het, Ek sal hulle tempels afbreek. Ek sal koning Jerobeam se nageslag in ’n oorlog laat sterf.”

Die priester Amasia wil vir Amos keer

10. Amasia was die priester van Bet-El. Hy het vir koning Jerobeam van Israel ’n boodskap gestuur en gesê: “Amos maak slegte planne teen jou. Wat hy sê, is gevaarlik vir die land.

11. Amos sê vir die Israeliete: ‘Koning Jerobeam sal in ’n oorlog sterf, en die vyande sal die Israeliete vang en wegvat na ’n ander land.’ ”

12. Vir Amos het die priester Amasia gesê: “Gaan weg, profeet! Gaan terug na die land Juda. Gaan wees daar ’n profeet en gaan verdien jou geld daar.

13. Hier in die stad Bet-El mag jy nie meer ’n profeet wees nie, want hierdie tempel is die koning en die land Israel se tempel.”

14. Amos het vir Amasia gesê: “Ek is nie ’n gewone profeet nie. Ek is nie saam met die ander profete nie. Ek is ’n boer. Ek boer met beeste en met bokke en skape, en ek plant wildevyebome.

15. Maar die Here het my weggeneem van die skape en bokke, en Hy het vir my gesê: ‘Jy moet my profeet wees. Gaan sê vir my volk, die Israeliete, Ek sal hulle straf.’

16. “Nou moet jy luister na wat die Here sê. Jy sê ek moenie ’n profeet wees en teen die Israeliete praat nie.

17. Maar die Here sê: ‘Jou vrou sal ’n prostituut word in die stad, en jou kinders sal in ’n oorlog sterf. Die vyande sal jou grond vat en verdeel, en jy sal sterf in ’n onrein land. Die vyande sal die Israeliete vang en wegvat na ’n ander land.’ ”