Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ék het vir my volk Israel ’n plek gegee om te woon, en hulle woon in hulle eie land. Niemand pla hulle nie, en slegte mense laat hulle nie meer swaarkry nie soos voorheen

11. in die tyd toe Ek leiers gekies en aangestel het oor my volk Israel. Ek het jou laat rus, vyande maak nie meer oorlog teen jou nie.“ ‘Nou sê Ek vir jou: Ek sal vir jóú ’n koningshuis gee.

12. Wanneer jou tyd verby is en jy sterf, dan sal Ek een van jou eie seuns koning laat word, en hy sal lank koning wees.

13. Hý sal vir My ’n tempel bou, en Ek sal hom baie lank laat regeer.

14. Ek sal vir hom wees soos ’n pa, en hy sal vir My wees soos ’n seun. Wanneer hy verkeerde dinge doen, dan sal Ek hom straf soos ’n mens ’n kind straf.

15. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir Saul wat vóór jou koning was nie.

16. Jou koningshuis sal baie lank aanhou regeer, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.’ ”

17. Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.

18. Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen?

19. En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, ’n mens.

20. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar.

21. U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7