Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:12-25 Bybel vir Almal (ABA)

12. Abner seun van Ner en die manne van Is-Boset seun van Saul het van die stad Maganajim na die stad Gibeon gegaan.

13. Joab seun van Seruja en die manne van Dawid het ook gegaan en hulle het vir Abner en sy manne by die Gibeon-dam gekry. Abner en die manne van Is-Boset het aan die een kant van die dam gaan sit, en Joab en die manne van Dawid het aan die ander kant van die dam gaan sit.

14. Toe sê Abner vir Joab: “Kom ons laat die jongmanne eers speel, dan kyk ons.”Joab het gesê: “Goed, hulle mag dit doen.”

15. Toe het twaalf van die manne van Benjamin en Is-Boset en twaalf van die manne van Dawid opgestaan en hulle het vorentoe gekom.

16. Elke jongman het die kop gegryp van die jongman wat voor hom was en hy het hom met sy swaard in die sy gesteek, en hulle het saam gesterf. Dit is hoekom hulle hierdie plek in Gibeon noem die “Swaard-veld.”

17. Die oorlog het toe begin, en die manne het daardie dag hard geveg. Die manne van Dawid het vir Abner en die manne van Israel gewen.

18. Daar was drie seuns van Seruja. Hulle was Joab en Abisai en Asael. Asael het so vinnig soos ’n gasel gehardloop.

19. Hy het Abner gevolg en gejaag en hy het nie weggedraai nie.

20. Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?”Asael het gesê: “Ja, dit is ek.”

21. Toe sê Abner vir Asael: “Jy moet wegdraai en jy moet met een van die jongmanne veg, dan kan jy sy wapens en klere vir jouself vat.”Maar Asael wou nie wegdraai agter Abner nie.

22. Abner het weer gesê: “Jy moet wegdraai agter my. Ek wil jou nie doodmaak nie, want dan sal ek nie in jou broer Joab se oë kan kyk nie.”

23. Maar Asael wou nie wegdraai nie, en Abner het hom toe met die agterkant van sy spies deur sy maag gesteek. Die spies het by Asael se rug uitgekom, en hy het daar geval en gesterf. Elkeen wat by die plek gekom het waar Asael geval en gesterf het, het gaan staan.

24. Joab en Abisai het aangehou om vir Abner te jaag. Die son het ondergegaan toe hulle by die Elmboog-heuwel kom, naby die fontein langs die pad na die Gibeon-woestyn.

25. Die Benjamin-manne het by Abner bymekaargekom en hulle het daar bo-op die heuwel saam gereedgestaan om te veg.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2