Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Absalom het dan ook gesê: “As ek die regter in die land was, dan sou ek reg gedoen het aan elkeen wat na my toe gekom het om te vra dat ek moet oordeel tussen hom en iemand anders.”

5. En wanneer iemand nader gekom het om voor Absalom te buig, dan het Absalom sy hand uitgesteek en hy het hom gedruk en gesoen.

6. Absalom het dit gedoen met elke Israeliet wat na die koning toe gekom het sodat die koning moet oordeel tussen hom en iemand anders. Al die mense van Israel het lief geword vir Absalom.

7. Toe Absalom vier jaar lank terug was in Jerusalem, het hy vir die koning gevra: “Ek wil graag na Hebron gaan om te doen wat ek vir die Here belowe het.

8. Want toe ek in Gesur, in die land Aram, gewoon het, het ek ’n gelofte gemaak. Ek het belowe dat ek in Hebron offers sal gaan bring vir die Here as Hy my laat terugkom na Jerusalem.”

9. Die koning het vir hom gesê: “Jy mag gaan.” Absalom het gereedgemaak en hy het na Hebron gegaan.

10. Absalom het boodskappers gestuur na al die stamme van Israel toe en hy het vir hulle laat weet: “Wanneer julle die ramshoring hoor blaas, dan moet julle sê: ‘Absalom het koning geword in Hebron.’ ”

11. Absalom het 200 manne van Jerusalem genooi, en hulle het saam met hom gegaan. Hulle het nie saam met hom planne gemaak nie en hulle het nie geweet wat hy wil doen nie.

12. Terwyl hy die offers gebring het, het Absalom vir Agitofel laat haal uit sy stad Gilo. Agitofel was ’n raadgewer van Dawid. Die manne wat wou hê dat Absalom koning moet word, het meer en meer geword.

13. Iemand het vir Dawid gaan vertel dat die manne van Israel wou hê dat Absalom koning moet word.

14. Dawid het toe vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem was, gesê: “Julle moet gereedmaak sodat ons kan vlug, want Absalom sal nie een van ons laat lewe nie. As julle nie gou maak nie, sal Absalom vinnig kom en hy sal ons hier kry. Hy sal nie jammer wees vir ons nie, hy sal al die mense in die stad doodmaak.”

15. Die amptenare van die koning het vir hom gesê: “Die koning moet sê wat hy wil hê, ons sal dit doen.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15