Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:24-37 Bybel vir Almal (ABA)

24. En toe kom Sadok ook, en saam met hom was al die Leviete wat die verbondskis van God dra. Hulle het die kis van God neergesit. Abjatar het ook gekom, en hulle het gewag totdat al die mense uit die stad is.

25. Maar toe sê die koning vir Sadok: “Jy moet die kis van God terugneem na die stad. As die Here genadig is vir my en as Hy my laat terugkom, dan sal ek die kis en sy staanplek weer sien.

26. Maar as die Here sê Hy hou nie van my nie, hier is ek, dan moet Hy met my doen wat Hy wil doen.”

27. Die koning het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet kyk wat gebeur. Gaan terug na die stad, jy moenie bekommerd wees nie. Jou seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan is altwee by julle.

28. Ek sal wag by die plek waar ’n mens deur die Jordaan-rivier na die woestyn kan gaan. Ek sal daar wag totdat julle vir my ’n boodskap stuur en vir my laat weet wat gebeur.”

29. Sadok en Abjatar het die kis van God teruggeneem na Jerusalem en hulle het daar gebly.

30. Dawid het teen die Olyf-berg opgegaan. Hy het geloop en huil. Daar was ’n doek oor sy kop en hy was kaalvoet. Al die mense by hom het doeke oor hulle koppe gegooi en hulle het geloop en huil.

31. Toe Dawid hoor dat Agitofel ook by die mense is wat wil hê dat Absalom koning moet word, het hy gebid: “Here, laat Agitofel se planne asseblief misluk.”

32. En toe Dawid bo-op die berg kom, het hy daar voor God gebuig. Gusai van die stad Erek het daar na hom toe gekom. Gusai het sy klere geskeur en daar was grond op sy kop.

33. Dawid het vir Gusai gesê: “As jy saam met my gaan, dan sal dit vir my moeilik wees,

34. maar jy sal my help as jy teruggaan na die stad en help dat Agitofel se planne nie slaag nie. Jy moet vir Absalom sê: ‘Koning, ek werk nou vir jou. Ek het altyd vir jou pa gewerk, maar nou werk ek vir jou.’

35. Die priesters Sadok en Abjatar sal daar naby jou wees. Jy moet vir hulle alles vertel wat jy in die paleis hoor.

36. Hulle twee seuns is daar by hulle. Dit is Sadok se seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan. Julle moet hulle stuur om vir my alles te sê wat julle hoor.”

37. Dawid se vriend Gusai het in die stad gekom toe Absalom daar aankom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15