Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:15-27 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die amptenare van die koning het vir hom gesê: “Die koning moet sê wat hy wil hê, ons sal dit doen.”

16. Die koning en sy hele familie het toe begin loop en hulle het uit die stad gegaan. Hy het tien van sy byvroue daar laat bly om die paleis op te pas.

17. Toe die koning en al die mense uit die stad loop, het hulle gaan staan by die laaste huis by die kant van die stad.

18. Al sy amptenare het by hom verbygeloop, en ook al die Kretense en Filistyne wat die koning moes oppas. Daar het 600 manne van die stad Gat gekom saam met Dawid. Toe hulle by die koning verbyloop,

19. het Dawid vir Ittai van Gat gevra: “Hoekom wil jy ook saam met ons gaan? Draai om en bly by die nuwe koning, want jy kom van ’n ander land, jy woon nie in jou eie land nie.

20. Jy is nie lank hier nie. As jy saam met ons kom, dan sal jy swaarkry saam met ons wanneer ons moet vlug en oral moet gaan. Draai om en laat jou manne saam met jou teruggaan. Hulle moet by jou bly, dit is reg.”

21. Maar Ittai het vir die koning gesê: “So seker soos die Here lewe en so seker soos Meneer die koning lewe, ek wil wees op dieselfde plek waar Meneer die koning is, dit maak nie saak of ek sterf en of ek lewe nie.”

22. Toe sê Dawid vir Ittai: “Dan moet jy saamkom.”Ittai van Gat en al sy manne het saamgegaan, en ook al die oumense en kinders wat by hom was.

23. Almal in die land het hard gehuil, en al die mense het saamgegaan. Die koning het deur die Kedron-vallei gegaan en al die mense het verder geloop op die pad na die woestyn.

24. En toe kom Sadok ook, en saam met hom was al die Leviete wat die verbondskis van God dra. Hulle het die kis van God neergesit. Abjatar het ook gekom, en hulle het gewag totdat al die mense uit die stad is.

25. Maar toe sê die koning vir Sadok: “Jy moet die kis van God terugneem na die stad. As die Here genadig is vir my en as Hy my laat terugkom, dan sal ek die kis en sy staanplek weer sien.

26. Maar as die Here sê Hy hou nie van my nie, hier is ek, dan moet Hy met my doen wat Hy wil doen.”

27. Die koning het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet kyk wat gebeur. Gaan terug na die stad, jy moenie bekommerd wees nie. Jou seun Agimaäs en Abjatar se seun Jonatan is altwee by julle.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15