Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. Maar toe sê die vrou van Tekoa vir die koning: “Meneer die koning, as iemand iets verkeerd gedoen het, dan is dit ek en my familie, jy is onskuldig.”

10. Toe sê die koning: “Wanneer iemand met jou praat oor hierdie ding, dan moet jy hom na my toe bring. Ek sal seker maak dat hy jou nie weer pla nie.”

11. Maar die vrou het gesê: “Daar is iemand, hy is die naaste familielid, hy wil my seun straf. Die koning moet asseblief belowe dat die naaste familielid nie my seun sal doodmaak nie. Jou God die Here moet die getuie wees.”Die koning het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, niemand sal jou seun doodmaak nie, daar sal nie ’n haar van jou seun op die grond val nie.”

12. Toe sê die vrou: “Mag ek vir Meneer die koning nog iets vra?”Die koning sê toe: “Ja, vra.”

13. Sy sê toe: “Maar hoekom wil jy so ’n verkeerde ding doen aan die volk van God? Jy het gesê wat moet gebeur in my saak, maar toe het jy gewys dat jy self verkeerd doen. Hoekom? Want jy laat nie jou seun terugkom nie, jou seun wat in ’n ander land moet bly.

14. Ons moet almal sterf, ons is soos water wat op die grond val en wat niemand weer kan bymekaarmaak nie. Maar God wil nie graag iemand laat sterf nie, Hy wil graag hê dat iemand wat moes weggaan van Hom, weer moet terugkom.

15. En nou, ek was bang vir die mense. Koning, daarom het ek gekom om met jou te praat oor my probleem. Ek het gedink ek moet met die koning kom praat, miskien doen jy iets en help my met my probleem,

16. want die koning sal luister en my red van die persoon wat my en my seun altwee wil wegvat van die volk van God.

17. Ek het gedink die koning sal iets sê wat my veilig sal laat voel, want die koning is soos ’n engel van God wat luister en wat weet wat is reg en wat is verkeerd, en ek bid dat jou God die Here by jou sal wees.”

18. Die koning het vir die vrou gesê: “Ek wil vir jou iets vra, jy moet asseblief alles vir my vertel.”Sy sê toe: “Meneer die koning, vra asseblief wat jy wil vra.”

19. En toe vra die koning: “Is dit Joab wat jou gestuur het om al hierdie dinge vir my te kom sê?”Die vrou het geantwoord: “So seker soos jy lewe, Meneer die koning, niemand kan vir jou jok nie. Ja, dit is jou offisier Joab, hy het my gestuur en hy het vir my al hierdie dinge gesê wat ek moet sê.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14