Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:11-26 Bybel vir Almal (ABA)

11. Maar die vrou het gesê: “Daar is iemand, hy is die naaste familielid, hy wil my seun straf. Die koning moet asseblief belowe dat die naaste familielid nie my seun sal doodmaak nie. Jou God die Here moet die getuie wees.”Die koning het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, niemand sal jou seun doodmaak nie, daar sal nie ’n haar van jou seun op die grond val nie.”

12. Toe sê die vrou: “Mag ek vir Meneer die koning nog iets vra?”Die koning sê toe: “Ja, vra.”

13. Sy sê toe: “Maar hoekom wil jy so ’n verkeerde ding doen aan die volk van God? Jy het gesê wat moet gebeur in my saak, maar toe het jy gewys dat jy self verkeerd doen. Hoekom? Want jy laat nie jou seun terugkom nie, jou seun wat in ’n ander land moet bly.

14. Ons moet almal sterf, ons is soos water wat op die grond val en wat niemand weer kan bymekaarmaak nie. Maar God wil nie graag iemand laat sterf nie, Hy wil graag hê dat iemand wat moes weggaan van Hom, weer moet terugkom.

15. En nou, ek was bang vir die mense. Koning, daarom het ek gekom om met jou te praat oor my probleem. Ek het gedink ek moet met die koning kom praat, miskien doen jy iets en help my met my probleem,

16. want die koning sal luister en my red van die persoon wat my en my seun altwee wil wegvat van die volk van God.

17. Ek het gedink die koning sal iets sê wat my veilig sal laat voel, want die koning is soos ’n engel van God wat luister en wat weet wat is reg en wat is verkeerd, en ek bid dat jou God die Here by jou sal wees.”

18. Die koning het vir die vrou gesê: “Ek wil vir jou iets vra, jy moet asseblief alles vir my vertel.”Sy sê toe: “Meneer die koning, vra asseblief wat jy wil vra.”

19. En toe vra die koning: “Is dit Joab wat jou gestuur het om al hierdie dinge vir my te kom sê?”Die vrou het geantwoord: “So seker soos jy lewe, Meneer die koning, niemand kan vir jou jok nie. Ja, dit is jou offisier Joab, hy het my gestuur en hy het vir my al hierdie dinge gesê wat ek moet sê.

20. Maar Joab het dit gedoen omdat hy die verkeerde ding wil regmaak, en Meneer het die wysheid van ’n engel van God, jy weet alles wat in die land gebeur.”

21. Die koning het toe vir Joab gesê: “Kyk, jy het hierdie ding gedoen. Gaan nou en laat die jongman Absalom terugkom.”

22. Joab het gebuig met sy gesig teen die grond en hy het die koning geprys en gesê: “Meneer die koning, vandag weet ek dat jy van my hou, want jy doen wat ek gevra het.”

23. Joab het gereedgemaak. Hy het na die land Gesur gegaan en hy het vir Absalom teruggebring na Jerusalem.

24. Die koning het vir Joab gesê: “Laat Absalom na sy huis gaan, ek wil hom nie sien nie.”Absalom het huis toe gegaan en hy het nie die koning gesien nie.

25. Absalom was baie mooi. In die hele land Israel was niemand so mooi soos hy nie. Almal het daaroor gepraat. Daar was niks verkeerd aan hom nie, van sy kop tot by sy tone.

26. Hy het elke jaar sy hare laat afskeer omdat dit te swaar geword het vir hom, en die hare wat hy elke maal afgeskeer het, het 200 sikkels geweeg op die koningsmaat.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14