Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:16-27 Bybel vir Almal (ABA)

16. Dawid het tot God gebid vir die kind en hy het gevas en in sy kamer ingegaan. Hy het die hele nag op die grond gelê.

17. Die amptenare in sy paleis het probeer om hom te laat opstaan van die grond, maar hy wou nie en hy wou ook nie saam met hulle eet nie.

18. Die kind het op die sewende dag gesterf. Dawid se amptenare was bang om vir hom te sê dat die kind dood is. Hulle het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Ons kan nie nou vir hom sê dat die kind dood is nie. Hy sal miskien ’n verkeerde ding doen.”

19. Dawid het gesien dat sy amptenare fluister en hy het besef dat die kind dood is. Hy vra toe vir sy amptenare of die kind dood is, en hulle het gesê: “Ja, hy is dood.”

20. Toe staan Dawid op en hy was en hy smeer lekkerruik-olie aan homself. Hy het ander klere aangetrek en hy het na die tempel-tent gegaan en gebid. Daarna het hy huis toe gegaan en kos gevra. Hulle het vir hom kos gegee en hy het geëet.

21. Sy amptenare vra toe vir hom: “Hoekom doen jy dit? Toe die kind gelewe het, het jy gevas en gehuil. Maar nou is die kind dood, en nou staan jy op en jy eet.”

22. Dawid het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink die Here sal miskien goed wees vir my en Hy sal die kind laat lewe.

23. Maar nou is die kind dood. Hoekom moet ek nou vas? Kan ek hom weer laat lewe? Nee. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie terugkom na my toe nie.”

24. Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar geslaap. Sy het ’n seun gekry, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir die kind.

25. Die Here het vir Natan gestuur om te sê sy naam moet Jedidja wees, want die Here is lief vir hom.

26. Joab het nog oorlog gemaak teen die stad Rabba van die Ammoniete. Hy het die deel van die stad oorwin waar die koning gewoon het.

27. Toe stuur Joab vir Dawid ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek het oorlog gemaak teen Rabba en ek het die deel van die stad oorwin waar die water is.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12