Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21:13-23 Bybel vir Almal (ABA)

13. Ek sal dit met Jerusalem laat gaan soos met Samaria en met die koningshuis van Agab. Ek sal Jerusalem skoonvee soos ’n mens ’n skottel skoonvee en dit omdraai.

14. Ek gooi die mense weg wat nog oorgebly het van my volk. Ek gee hulle vir hulle vyande. Al hulle vyande sal hulle vang en wegvat wanneer hulle wil.

15. Ek doen dit omdat hulle dinge gedoen het waarvan Ek nie hou nie. Hulle het My kwaad gemaak van die dag toe hulle voorvaders uit Egipte gekom het tot vandag toe.”

16. En ook, Manasse het onskuldige mense laat doodmaak, hy het hulle bloed laat vloei totdat Jerusalem vol bloed was van die een kant tot by die ander kant. Hy het ook die mense van Juda sonde laat doen, hulle het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie.

17. Al die ander dinge wat Manasse gedoen het, en die sondes wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

18. Manasse het gesterf, en sy mense het hom begrawe in die tuin van sy paleis, die tuin van Ussa. Sy seun Amon het koning geword ná hom.

19. Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was twee jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Mesullemet dogter van Garus, van die stad Jotba.

20. Amon het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy pa Manasse gedoen het.

21. Hy het gelewe soos sy pa. Hy het die afgode gedien wat sy pa gedien het en hy het vir hulle gebuig.

22. Hy het nie meer die Here, die God van sy voorvaders, gedien nie, hy het nie gedoen wat die Here wil hê nie.

23. Amptenare van Amon het planne gemaak teen hom en hulle het die koning in sy paleis vermoor.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 21