Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 1:5-14 Bybel vir Almal (ABA)

5. Toe die boodskappers terugkom by die koning, vra die koning vir hulle: “Hoekom het julle teruggekom?”

6. En toe sê die boodskappers vir die koning: “’n Man het ons kom ontmoet en hy het vir ons gesê: ‘Julle moet teruggaan na die koning toe wat julle gestuur het en julle moet vir hom sê die Here sê: Dink jy daar is nie ’n God in die land Israel nie? Hoekom gaan vra jy vir Baäl-Sebub, die god van Ekron, wat sal gebeur? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie afklim van die bed waarop jy gaan lê het nie, want jy sal sterf, dit is seker.’ ”

7. Die koning vra toe vir die boodskappers: “Hoe het die man gelyk wat vir julle kom ontmoet het en wat hierdie dinge vir julle gesê het?”

8. Hulle het vir die koning gesê: “Die man het velklere aangehad en daar was ’n belt van vel om sy heupe.”Toe sê die koning: “Dit is Elia van die stad Tisbe.”

9. Die koning het toe ’n offisier en 50 manne gestuur, en hulle het opgeklim na Elia toe. Elia het bo-op die berg gesit. Die offisier het vir Elia gesê: “Man van God, die koning sê jy moet afkom.”

10. Elia het geantwoord en vir die offisier gesê: “As ek ’n man van God is, dan sal daar vuur afkom uit die lug en die vuur sal jou en jou 50 manne verbrand.”En toe kom daar vuur uit die lug en dit verbrand die offisier en sy 50 manne.

11. Die koning het ’n ander offisier en 50 manne gestuur. Die offisier het vir Elia gesê: “Man van God, die koning sê jy moet gou maak en afkom.”

12. Elia het geantwoord en vir die offisier gesê: “As ek ’n man van God is, dan sal daar vuur afkom uit die lug en die vuur sal jou en jou 50 manne verbrand.”En toe kom daar vuur van God uit die lug en dit verbrand die offisier en sy 50 manne.

13. Die koning het ’n derde offisier en 50 manne gestuur. Hierdie derde offisier het opgeklim en hy het voor Elia gekniel en hom gesoebat en gesê: “Man van God, asseblief, jy moenie vir my en hierdie 50 manne laat sterf nie.

14. Ek weet daar het vuur uit die lug gekom en dit het die eerste twee offisiere saam met hulle manne verbrand, maar jy moenie vir my laat sterf nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 1