Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 6:7-17 Bybel vir Almal (ABA)

7. Dit is wat julle nou moet doen: Julle moet ’n nuwe wa neem en twee koeie wat kalwers het en wat nog nooit ’n wa getrek het nie. Die koeie moet die wa trek, en julle moet die kalwers by die huis hou.

8. Dan moet julle die kis van die Here neem en julle moet dit op die wa sit. Julle moet die goue goed in die wa-kis sit langs die kant van die wa. Die goue goed is die skuld-offer wat julle moet saamstuur. Dan moet julle die wa en die koeie laat gaan.

9. Julle moet kyk waarnatoe die koeie en die wa gaan. As die wa gaan na die stad Bet-Semes in die land van die Here, dan sal ons weet dit is die Here wat ons so swaar laat kry het. As die wa nie daarnatoe gaan nie, dan sal ons weet dit is nie die Here wat ons laat swaarkry het nie, dit het sommer met ons gebeur.”

10. Die manne het dit toe gedoen. Hulle het twee koeie geneem wat kalwers het. Die koeie het die wa getrek, en die manne het die kalwers by die huis laat bly.

11. Hulle het die kis van die Here op die wa gesit en hulle het die goue muise en die beelde van die sere in die wa-kis gesit.

12. Die koeie het reguit geloop op die pad na Bet-Semes toe. Hulle het op die pad gebly en hulle het aangehou om te bulk. Hulle het nie links of regs gedraai nie, en die leiers van die Filistyne het agter hulle geloop tot waar die grond van Bet-Semes begin.

13. Die mense van Bet-Semes was besig om koring af te sny in die vallei. Toe hulle opkyk en hulle sien die kis, was hulle baie bly.

14. Die wa het gekom tot by die grond van Josua van Bet-Semes, en daar het die wa gaan staan. Daar was ’n groot klip. Die mense van Bet-Semes het die hout van die wa stukkend gekap en hulle het die koeie ge-offer vir die Here.

15. Die Leviete het die kis van die Here afgehaal van die wa, en ook die wa-kis wat daarby was en die goue goed wat daarin was. Hulle het dit op die groot klip neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag brand-offers en ander offers vir die Here gebring.

16. Die vyf leiers van die Filistyne het dit gesien en hulle het dieselfde dag teruggegaan na die stad Ekron.

17. Die skuld-offer wat die Filistyne vir die Here gestuur het, was vyf goue sere, een seer vir elke stad. Die stede was Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 6