Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 3:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die Here het vir Samuel geroep, en Samuel het gesê: “Hier is ek.”

5. Samuel het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Maar Eli het gesê: “Ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”Samuel het gaan slaap.

6. Die Here roep toe weer: “Samuel!”Samuel het opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Maar Eli het gesê: “My seun, ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”

7. Samuel het nie geweet dat dit die Here is nie, want die Here het nog nie voor daardie tyd met hom gepraat nie.

8. Toe die Here die derde maal vir Samuel roep, het Samuel opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Eli het toe besef dat dit die Here is wat die seun geroep het,

9. en hy het vir Samuel gesê: “Gaan lê, en wanneer Hy jou weer roep, dan moet jy sê: ‘Praat, Here, ek is u dienaar en ek luister.’ ”Samuel het weer op sy bed gaan lê.

10. Die Here het gekom en Hy het daar gestaan en weer geroep: “Samuel! Samuel!”Samuel het gesê: “Praat asseblief, ek is u dienaar en ek luister.”

11. Die Here het vir Samuel gesê: “Ek sal nou in die land Israel iets doen, elkeen wat dit hoor, sal geskok wees.

12. Daardie dag sal Ek met Eli alles laat gebeur wat Ek oor sy familie gesê het, alles van die begin tot die end.

13. Ek het vir hom gesê Ek sal sy familie vir altyd straf oor die sonde waarvan hy geweet het. Want sy seuns het My nie geëer nie, en hy het nie hard met hulle geraas nie.

14. Daarom het Ek gesê: Ek sal die sonde van Eli se familie nooit vergewe nie, ook nie wanneer hulle offers en presente vir My bring nie. Wat Ek gesê het, sal gebeur.”

15. Samuel het tot die oggend op sy bed gelê. Toe het hy die deure van die tempel oopgemaak. Hy was bang om vir Eli te vertel wat die Here vir hom kom sê het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 3