Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 3:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die seun Samuel het vir die Here gewerk saam met Eli. In daardie tyd het die Here min met mense gepraat en Hy het nie baie maal vir hulle iets gewys nie.

2. Eli het een nag op sy bed gelê. Sy oë het al dof geword, hy kon nie meer goed sien nie.

3. Die lamp van God het nog gebrand. Samuel het in die tempel geslaap waar die kis van God was.

4. Die Here het vir Samuel geroep, en Samuel het gesê: “Hier is ek.”

5. Samuel het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Maar Eli het gesê: “Ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”Samuel het gaan slaap.

6. Die Here roep toe weer: “Samuel!”Samuel het opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Maar Eli het gesê: “My seun, ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”

7. Samuel het nie geweet dat dit die Here is nie, want die Here het nog nie voor daardie tyd met hom gepraat nie.

8. Toe die Here die derde maal vir Samuel roep, het Samuel opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”Eli het toe besef dat dit die Here is wat die seun geroep het,

9. en hy het vir Samuel gesê: “Gaan lê, en wanneer Hy jou weer roep, dan moet jy sê: ‘Praat, Here, ek is u dienaar en ek luister.’ ”Samuel het weer op sy bed gaan lê.

10. Die Here het gekom en Hy het daar gestaan en weer geroep: “Samuel! Samuel!”Samuel het gesê: “Praat asseblief, ek is u dienaar en ek luister.”

11. Die Here het vir Samuel gesê: “Ek sal nou in die land Israel iets doen, elkeen wat dit hoor, sal geskok wees.

12. Daardie dag sal Ek met Eli alles laat gebeur wat Ek oor sy familie gesê het, alles van die begin tot die end.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 3