Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 22:4-15 Bybel vir Almal (ABA)

4. Dawid het vir sy ouers woonplek gekry by die koning van Moab, en hulle het daar gebly terwyl Dawid in die berge weggekruip het.

5. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy moenie aanhou om hier in die berge weg te kruip nie, jy moet na die land Juda gaan.”Dawid het toe gegaan en hy het in die Geret-bos gaan woon.

6. Saul het gehoor dat Dawid en sy manne in die Geret-bos is. Saul het by die stad Gibea op ’n hoë plek onder ’n tamariskboom gesit. Hy het sy spies in sy hand vasgehou, en al sy amptenare het by hom gestaan.

7. Hy sê toe vir hulle: “Manne van die Benjamin-stam, julle moet luister: Dink julle Dawid sal ook vir julle almal koringlande en wingerde gee? Dink julle hy sal julle ook almal offisiere maak oor 1 000 manne of oor 100 manne?

8. Julle het almal planne gemaak teen my. Niemand het vir my kom sê dat my seun ’n ooreenkoms gemaak het met die seun van Isai nie. Niemand van julle is bekommerd oor my nie. Niemand het vir my kom sê dat my seun vir Dawid, my amptenaar, opstandig gemaak het teen my nie. Dit is wat Dawid vandag doen, hy lê en wag om my aan te val.”

9. Die Edomiet Doëg het by die amptenare van Saul gestaan. Hy het vir Saul gesê: “Ek het gesien Dawid seun van Isai het na die stad Nob gekom na Agimelek seun van Agitub toe.

10. Agimelek het tot die Here gebid en gevra of dit goed sal gaan met Dawid en hy het vir Dawid padkos gegee. Hy het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir Dawid gegee.”

11. Die koning het toe vir Agimelek seun van Agitub en sy hele familie laat roep. Hulle was die priesters in Nob en hulle het almal na die koning toe gekom.

12. Saul het gesê: “Seun van Agitub, luister.”Agimelek het gesê: “Ek luister, Meneer.”

13. Saul vra toe vir Agimelek: “Hoekom het julle planne gemaak teen my, jy en die seun van Isai? Jy het vir hom kos en ’n swaard gegee en jy het vir die Here gevra of dit goed sal gaan met hom. Daarom is hy opstandig en daarom wil hy veg teen my. Hy lê vandag en wag om my aan te val.”

14. Agimelek sê toe vir die koning: “Maar ’n mens kan vir Dawid glo, ’n mens kan hom meer glo as vir jou ander amptenare. Hy is jou skoonseun en hy is die hoof oor die mense wat jou moet oppas. Almal in jou familie respekteer hom.

15. Dit is ook nie die eerste maal dat ek tot die Here bid en vra of dit goed sal gaan met Dawid nie. Nee, die koning moenie dink dat ek en my familie iets gedoen het wat verkeerd is nie, want ek het niks geweet van planne teen jou nie, heeltemal niks.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 22