Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 22:3-9 Bybel vir Almal (ABA)

3. Dawid het weggegaan van die Adullam-grot na die stad Mispe in Moab en hy het vir die koning van Moab gevra: “Mag my ouers asseblief by julle kom bly totdat ek weet wat God met my sal doen.”

4. Dawid het vir sy ouers woonplek gekry by die koning van Moab, en hulle het daar gebly terwyl Dawid in die berge weggekruip het.

5. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy moenie aanhou om hier in die berge weg te kruip nie, jy moet na die land Juda gaan.”Dawid het toe gegaan en hy het in die Geret-bos gaan woon.

6. Saul het gehoor dat Dawid en sy manne in die Geret-bos is. Saul het by die stad Gibea op ’n hoë plek onder ’n tamariskboom gesit. Hy het sy spies in sy hand vasgehou, en al sy amptenare het by hom gestaan.

7. Hy sê toe vir hulle: “Manne van die Benjamin-stam, julle moet luister: Dink julle Dawid sal ook vir julle almal koringlande en wingerde gee? Dink julle hy sal julle ook almal offisiere maak oor 1 000 manne of oor 100 manne?

8. Julle het almal planne gemaak teen my. Niemand het vir my kom sê dat my seun ’n ooreenkoms gemaak het met die seun van Isai nie. Niemand van julle is bekommerd oor my nie. Niemand het vir my kom sê dat my seun vir Dawid, my amptenaar, opstandig gemaak het teen my nie. Dit is wat Dawid vandag doen, hy lê en wag om my aan te val.”

9. Die Edomiet Doëg het by die amptenare van Saul gestaan. Hy het vir Saul gesê: “Ek het gesien Dawid seun van Isai het na die stad Nob gekom na Agimelek seun van Agitub toe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 22