Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 20:20-39 Bybel vir Almal (ABA)

20. Ek sal dan drie pyle verby die klip skiet. Ek sal maak of ek na iets skiet

21. en ek sal die seun wat by my is, stuur om die pyle te gaan haal. As ek hard vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is tussen my en jou, bring hulle,’ dan moet jy kom, want dan is daar nie probleme nie, so seker soos die Here lewe.

22. Maar as ek vir die seun sê: ‘Kyk, die pyle is daar anderkant jou,’ dan moet jy gaan, want dan stuur die Here jou weg.

23. Maar onthou wat ons vir mekaar gesê het, ek en jy. Moenie dit vergeet nie, die Here is altyd die getuie dat ek en jy ’n ooreenkoms het.”

24. Dawid het weggekruip in die veld. Dit was Nuwemaan-fees, en die koning het by die tafel gaan sit om te eet.

25. Hy het gesit op die plek waar hy altyd gesit het, op die sitplek teen die muur. Jonatan het gestaan, en Abner het langs Saul gesit. Dawid se plek was leeg.

26. Saul het daardie dag niks gesê nie, want hy het gedink iets het met Dawid gebeur wat hom onrein gemaak het.

27. Maar die volgende dag, die tweede dag van die Nuwemaan-fees, was Dawid se plek weer leeg. Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai nie kom eet nie, nie gister nie en ook nie vandag nie?”

28. Jonatan het vir Saul gesê: “Dawid het my gesoebat en gevra of hy na Betlehem kan gaan.

29. Dawid het gesê: ‘Laat my asseblief gaan, want ons familie moet ’n offer bring, en my broer het gesê ek moet kom. As jy goed wil wees vir my, laat my dan asseblief gaan sodat ek my broers kan sien.’ Dit is hoekom Dawid nie na die koning se tafel gekom het nie.”

30. Saul was kwaad vir Jonatan, hy het gesê: “Jy is soos die seun van ’n slegte en ontrou vrou! Ek weet jy wil vir die seun van Isai help teen my. Jy het jou eie naam en jou ma se naam sleg gemaak.

31. Want jy sal nie koning kan word terwyl die seun van Isai lewe nie. Stuur nou dadelik manne om hom te gaan haal, hy moet sterf!”

32. Jonatan vra toe vir sy pa Saul: “Hoekom moet hy sterf? Wat het hy gedoen?”

33. Saul het sy spies na Jonatan gegooi. Hy wou hom raakgooi. Jonatan het toe geweet sy pa het vas besluit om vir Dawid dood te maak.

34. Jonatan was baie kwaad en hy het opgestaan en weggegaan van die tafel. Hy het nie daardie tweede dag van die Nuwemaan-fees geëet nie. Hy was hartseer oor Dawid, want sy pa het gemaak of Dawid ’n slegte mens is.

35. Jonatan het die volgende oggend uitgegaan na die veld, na die plek waar hy gesê het Dawid moet vir hom wag. Daar was ’n jong seun by Jonatan.

36. Jonatan het vir die seun gesê: “Jy moet hardloop en asseblief die pyle soek wat ek skiet.”Die seun het gehardloop, en Jonatan het ’n pyl verby hom geskiet.

37. Toe die seun by die plek kom waarnatoe Jonatan die pyl geskiet het, het Jonatan vir die seun geskree: “Die pyl is anderkant jou.”

38. En Jonatan het vir die seun geskree: “Jy moet gou maak, jy moet hardloop, jy moenie staan nie.”Die seun het die pyl opgetel en hy het na Jonatan toe gekom.

39. Die seun het niks geweet nie, maar Jonatan en Dawid het geweet wat Jonatan se woorde beteken.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 20