Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 18:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Nadat Dawid klaar gepraat het met Saul, het Jonatan baie van Dawid begin hou. Hy was lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was.

2. Saul het gesê Dawid moet altyd by hom bly, hy moenie weer teruggaan na sy pa se huis nie.

3. Jonatan en Dawid het ’n ooreenkoms gemaak, want Jonatan was baie lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was.

4. Jonatan het sy bo-kleed en sy ander klere uitgetrek en hy het dit vir Dawid gegee, en ook sy swaard en sy pyl en boog en sy belt.

5. Dawid het oral gegaan waar Saul hom gestuur het, en dit het goed gegaan met hom. Saul het hom gekies om die hoof te wees oor die manne wat moes oorlog maak, en die manne en ook Saul se amptenare was bly daaroor.

6. Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het Saul en sy manne teruggekom, en toe het daar iets gebeur. Die vroue het uit al die stede van Israel na koning Saul toe gekom. Hulle het gesing en gedans en musiek gemaak met tamboeryne en driehoeke. Hulle was vrolik,

7. hulle het gelag en gesing en hulle het gesê:“Saul het duisende manneoorwin,maar Dawid het tienduisendeoorwin.”

8. Saul het baie kwaad geword, hy het niks daarvan gehou nie. Hy het gesê: “Hulle sê Dawid het tienduisende manne oorwin, maar ek het net duisende oorwin. As hulle so aanhou praat, dan sal hy die koning word in my plek.”

9. Daarom het Saul van daardie dag goed gekyk of Dawid iets verkeerd doen.

10. Die volgende oggend het ’n bose gees in Saul gekom. Saul het soos ’n profeet gepraat, en Dawid het musiek gemaak soos hy voorheen gedoen het. Saul se spies was in sy hand,

11. en hy het die spies na Dawid gegooi, hy wou vir Dawid teen die muur vassteek met die spies. Hy het die spies twee maal gegooi, maar elke maal het Dawid weggespring.

12. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 18