Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 22:2-15 Bybel vir Almal (ABA)

2. Daarna het Dawid gesê die vreemdelinge wat in die land is, moet bymekaarkom, en hy het party van hulle gekies en aangestel om klippe reg te kap om die tempel te bou.

3. Dawid het baie yster laat gereedmaak vir penne en skarniere vir die deure en die poorte. Die koper was so baie dat hulle dit nie kon weeg nie.

4. Daar was ook baie sederhout, dit was te veel om te tel, want die mense van die stede Sidon en Tirus het baie sederhout vir Dawid gebring.

5. Dawid het gesê: “My seun Salomo is jonk en swak. Die tempel wat hy moet laat bou, moet baie groot wees. Mense van al die lande moet praat oor hoe mooi hierdie tempel is. Daarom wil ek alles gereedmaak vir hom.”Dawid het toe baie dinge gereedgemaak voordat hy gesterf het.

6. Hy het sy seun Salomo geroep en vir hom gesê hoe hy die tempel van die Here, die God van Israel, moet bou.

7. Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Ek wou ’n tempel bou vir my God die Here,

8. maar Hy het vir my gesê: ‘Dawid, jy het baie mense doodgemaak en jy het baie oorlog gemaak. Jy mag nie ’n tempel bou vir My nie, want Ek het gesien hoe baie mense jy doodgemaak het op die aarde.

9. Kyk, jy sal ’n seun kry, en hy sal lief wees vir vrede. Ek sal hom laat rus, vyande sal nie oorlog maak teen hom nie. Ja, sy naam sal Salomo wees, en in die tyd wanneer hy koning is, sal Ek dit goed laat gaan in die land Israel, alles sal stil wees.

10. Dit is hý wat die tempel sal bou waar Ek kan woon. Hý sal vir my ’n seun wees en Ek sal vir hom ’n vader wees. Ek sal hom baie lank oor Israel laat regeer.’

11. Daarom, my seun, ek bid dat die Here by jou sal wees en dat dit goed sal gaan met jou, sodat jy die tempel van jou God die Here sal bou, Hy het gesê jý sal dit bou.

12. Ek bid dat die Here jou sal help om dinge te ken en te verstaan, en dat Hy vir jou sal sê hoe jy oor Israel moet regeer. Ek bid dat jy sal doen wat die wette van jou God die Here sê.

13. Dit sal goed gaan met jou as jy kyk dat die Israeliete doen wat die Here gesê het en as hulle doen wat Hy besluit het. Die Here het dit alles vir Moses gesê. My seun, jy moet sterk en dapper wees, jy moenie bang wees nie, jy moenie skrik nie.

14. Kyk, ek het hard gewerk. Ek het 100 000 talente goud en een miljoen talente silwer bymekaargemaak vir die tempel, en ook so baie brons en yster dat ’n mens dit nie kan weeg nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, en jy kan nog meer daarby sit.

15. Daar is ook baie werkers wat jy kan gebruik: mense wat klippe kan regkap, ambagsmanne wat met klip en hout kan werk, en mense wat vaardig is om enige werk te doen.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 22