Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. En ná die aardbewing was daar ’n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat.

13. Toe hy dit hoor, het hy sy gesig toegemaak met sy bo-kleed. Hy het uitgegaan en hy het voor die grot gaan staan. En daar hoor hy toe ’n stem wat vra: “Elia, wat doen jy hier?”

14. Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.”

15. Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op dieselfde pad. Jy moet gaan tot in die woestyn van Damaskus, en wanneer jy daar kom, dan moet jy vir Gasael salf om koning te wees van die Arameërs.

16. En jy moet vir Jehu seun van Nimsi salf om koning te wees van Israel. En jy moet vir Elisa seun van Safat van die stad Abel-Megola salf om profeet te wees in jou plek.

17. Gasael sal begin om mense dood te maak, en Jehu sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Gasael. Elisa sal die mense doodmaak wat vry weggekom het van Jehu.

18. Maar Ek sal in die land Israel 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het voor Baäl nie. Hulle het hom nie aanbid en gesoen nie.”

19. Elia het weggegaan van Horeb-berg en hy het vir Elisa seun van Safat gekry. Elisa was besig om te ploeg. Daar was twaalf ploeë, twee beeste het elke ploeg getrek. Elisa was by die agterste ploeg. Toe Elia daar verbykom, gooi hy sy bo-kleed oor Elisa.

20. Elisa het die beeste gelos en agter Elia gehardloop en vir hom gesê: “Ek wil eers my pa en my ma gaan groet, dan sal ek kom en saam met jou gaan.”Elia het vir hom gesê: “Jy mag gaan, ek sal jou nie keer nie.”

21. Elisa het teruggegaan. Hy het twee beeste geneem en hy het hulle geslag. Hy het die vleis gaargemaak met die hout van die jukke. Hy het die vleis vir sy mense gegee, en toe hulle klaar geëet het, het hy gereedgemaak en saam met Elia gegaan. Elisa het Elia se helper geword.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19