hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 3 Bybel vir Almal (ABA)

Hoe mense moet lewe wat in Christus glo

1. Jy moet vir die gelowiges sê dat hulle moet onthou om te luister na almal wat oor hulle regeer, hulle moet gehoorsaam wees. Hulle moet altyd gereed wees om goeie dinge te doen.

2. Hulle moenie slegte dinge sê oor iemand nie en hulle moenie daarvan hou om te baklei nie. Hulle moet vriendelik wees en hulle harte moet vol liefde wees vir al die mense.

3. Want voorheen was ons self ook dwaas en ongehoorsaam aan God. Mense het ons maklik verlei. Ons was slawe van baie dinge wat ons graag wou doen, dinge wat lekker is. Ons het lelike dinge gedoen en ons was jaloers op ander mense. Almal het ons gehaat, en ons het mekaar gehaat.

4. Maar God wat vir ons gered het, het toe vir ons kom wys dat Hy baie goed en lief is vir mense.

5. Hy het ons gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat óns goeie dinge gedoen het nie. Nee, God het ons gered omdat Hy jammer was vir ons. Hoe het Hy ons gered? Hy het die Heilige Gees gestuur om ons sondes af te was. Hy het ons gemaak soos nuwe mense, Hy het ons gemaak soos mense wat weer gebore is.

6. God het vir Jesus Christus, ons Redder, gestuur om die Heilige Gees vir ons te gee, sodat die Heilige Gees heeltemal oor ons sal regeer.

7. God het ons vrygespreek, Hy was genadig vir ons, daarom kan ons weet en seker wees dat ons die ewige lewe sal kry wat God vir ons belowe het.

8. Wat ek nou gesê het, is waar.Ek wil hê jy moet vir die mense wat in God glo, duidelik sê dat hulle hard moet probeer om goeie dinge te doen. Al hierdie dinge is mooi en goed vir die mense.

9. Julle moenie soos dwase met ander mense stry en spog oor wie julle voorouers was nie. Julle moet ook nie oor wette twis nie, want wanneer julle dit doen, sal julle niemand help nie, dit beteken niks.

10. Wanneer iemand mense laat twis met mekaar, dan moet jy vir hom sê hy moet ophou om dit te doen, en as hy nie luister nie, dan moet jy dit weer vir hom sê. As hy dán ook nie luister nie, dan moet jy hom heeltemal los.

11. Jy weet dat iemand wat nie wil luister nie, heeltemal deurmekaar is. Sy sondes wys dat hy skuldig is wanneer God hom oordeel.

Paulus stuur groete en sê wat Titus moet doen

12. Wanneer ek vir Artemas of Tigikus na jou toe stuur, dan moet jy hard probeer om na my toe te kom in die stad Nikopolis. Ek het besluit om die hele winter daar te bly.

13. Jy moet hard probeer om vir Senas, die wetgeleerde, en Apollos te help met alles wat hulle moet hê wanneer hulle weggaan. Hulle moet genoeg van alles hê.

14. Ons eie mense moet ook leer dat hulle moet aanhou om goed te werk, sodat almal genoeg kan hê om te lewe. Dan sal ons mense vir ander mense help.

15. Almal wat by my is, stuur groete vir jou. Sê groete vir die gelowiges wat lief is vir ons.Ek bid dat God genadig sal wees vir julle almal.