Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 7:7-22 Bybel vir Almal (ABA)

7. Is dit reg wanneer ons sê God se wette is sonde? Nee, nooit nie! Ek ken God se wette, en daarom weet ek wat sonde is. God se wette sê: “Jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie,” en daarom weet ek dat ek dit nie mag doen nie.

8. Maar die sonde gebruik daardie wet en maak my dan baie lus om ander mense se goed te hê. As daar nie wette was nie, dan kon die sonde my nie lus maak om slegte dinge te doen nie.

9. Voorheen, toe ek nie God se wette geken het nie, het ek gelewe, maar toe ek die wette leer ken het, het die sonde in my begin lewe,

10. en ek was soos ’n mens wat gesterf het. God het die wette gegee om my te laat lewe, maar ek het uitgevind daardie wette maak my dood.

11. Want die sonde het God se wette gebruik en dit het my iets laat glo wat nie waar is nie. Ja, die sonde het die wette gebruik om my dood te maak.

12. Daarom, die wette is God se wette. God gee elke wet, en elke wet is reg en goed.

13. Mag ons dan sê die wette wat goed is, het my doodgemaak? Nee, nooit nie! Dit is die sonde wat my doodgemaak het. Die sonde gebruik God se goeie wette om my dood te maak sodat almal kan weet wat die sonde is. Ja, die sonde gebruik die wette, en so word die sonde altyd meer.

14. Ons weet dat die Heilige Gees die wette gegee het, maar ek is ’n mens, ek doen slegte dinge, ek is ’n slaaf van die sonde.

15. Ek verstaan nie wat ek doen nie. Ek wil goeie dinge doen, maar dan doen ek dit nie. Ek doen slegte dinge, dinge wat ek haat.

16. En wanneer ek dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan besef ek dat die wette goed is.

17. Want dit is nie ék wat die slegte dinge doen nie, dit is die sónde wat in my is.

18. Ek weet daar is niks in my wat goed is nie. Ek wil graag goeie dinge doen, maar ek doen dit nie.

19. Ja, ek doen nie die goeie dinge wat ek graag wil doen nie, maar ek doen die slegte dinge wat ek nie wil doen nie.

20. En wanneer ek die slegte dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie ek wat die slegte dinge doen nie, dit is die sonde wat dit doen, die sonde wat in my is.

21. Ek het iets geleer wat altyd waar is: Ek wil graag die goeie dinge doen, maar die slegte dinge is altyd in my.

22. Ek dink aan die wette van God en ek is baie lief vir hulle.

Lees volledige hoofstuk Romeine 7