hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 13 Bybel vir Almal (ABA)

Die gelowiges en die regering

1. Elke mens moet gehoorsaam wees aan die regering wat oor hom regeer, want God het elke regering gekies en aangestel. Elke regering kom van God.

2. Wanneer iemand ongehoorsaam is aan die regering, dan is hy ongehoorsaam aan die regering vir wie God gekies en aangestel het. En God sal almal straf wat ongehoorsaam is aan die regering.

3. Wanneer iemand goeie dinge doen, dan kan hy weet hy moenie bang wees vir die regering nie, maar wanneer hy slegte dinge doen, dan moet hy bang wees. As jy nie bang wil wees vir die regering nie, dan moet jy goeie dinge doen. Dan sal die regering jou prys.

4. Die regering werk vir God, en dit is goed vir jou. Wanneer jy slegte dinge doen, dan moet jy bang wees vir die regering, want dan moet die regering jou straf. Die regering werk vir God en die regering moet almal straf wat slegte dinge doen.

5. Daarom moet jy gehoorsaam wees aan die regering. Jy moet gehoorsaam wees omdat jy bang is dat die regering jou sal straf, maar jy moet ook gehoorsaam wees omdat jy self weet dit is die regte ding om te doen.

6. Julle betaal belasting, want die regering werk vir God en hulle moet belasting bymekaarmaak.

7. Julle moet vir die regering alles doen wat julle vir hulle moet doen. Wanneer julle belasting moet betaal, dan moet julle dit betaal. Wanneer julle tol moet betaal, dan moet julle dit betaal. Julle moet bang wees vir almal vir wie julle bang moet wees, julle moet almal respekteer vir wie julle moet respekteer.

Dit is baie belangrik om lief te wees vir mekaar

8. Julle moenie vir mekaar iets skuld nie, maar julle moet lief wees vir mekaar, want wanneer julle lief is vir ander mense, dan doen julle alles wat God se wette vra.

9. Al die wette, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie iemand vermoor nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie” en ook al die ander wette, beteken “Jy moet lief wees vir jou naaste, so lief soos jy vir jouself is.”

10. As jy lief is vir jou naaste, dan sal jy nooit slegte dinge aan hom doen nie. Daarom, as jy lief is vir jou naaste, dan doen jy alles wat die wette vra.

11. Julle weet die belangrike tyd is naby, die tyd wanneer Christus weer kom. Julle moet gereed wees, julle moenie wees soos mense wat slaap nie. Want die tyd wanneer Christus sal kom om ons te red, is nou nader as toe ons in Hom begin glo het.

12. Mense weet dat dit lig word wanneer die nag verby is. So weet ons ook dat ons nie meer lank sal wag nie, dan sal Christus kom. Daarom moet ons nie mense van die nag wees nie, ons moenie slegte dinge doen nie. Ons moet mense van die lig wees, ons moet goeie dinge doen.

13. Ons moet reg lewe soos mense van die lig, ons moenie te veel eet nie en ons moenie dronk word nie, ons moenie onsedelik lewe en net doen wat ons wil doen nie, ons moenie aanhou stry en jaloers wees nie.

14. Julle behoort aan die Here Jesus Christus, daarom moet julle weet Hy is nou baie naby aan julle, so naby soos die klere wat julle aantrek. Julle moenie die slegte dinge doen wat mense graag wil doen nie, nooit nie.