Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 28:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Sabbatdag was verby. Toe dit die Sondag-oggend begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2. Skielik was daar ’n groot aardbewing, want ’n engel van die Here het afgekom uit die hemel. Hy het na die graf gegaan, die klip weggerol en op die klip gaan sit.

3. Hy het geblink soos weerlig en sy klere was so wit soos sneeu.

4. Die soldate wat die graf opgepas het, het groot geskrik. Hulle het gebewe en hulle het geword soos mense wat dood is.

5. Die engel sê toe vir die vroue: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek vir Jesus wat gekruisig is.

6. Hy is nie hier nie, want Hy lewe weer. Hy het gesê dit sal gebeur. Kom kyk, hier is die plek waar Hy gelê het.

7. Gaan gou en sê vir sy dissipels Hy lewe weer. Dit is wat sal gebeur: Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is wat ek vir julle moes kom sê.”

8. Die vroue het gou weggegaan van die graf. Hulle was bang en baie bly en hulle het gehardloop om dit vir die dissipels te vertel.

9. Skielik het Jesus daar voor hulle gestaan en Hy het vir hulle gesê: “Ek groet julle!”Die vroue kom toe na Jesus toe. Hulle het aan sy voete geraak en Hom aanbid.

Lees volledige hoofstuk Matteus 28