Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 25:24-39 Bybel vir Almal (ABA)

24. Die slaaf wat een talent gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, ek weet jy is ’n kwaai man. Jy wil koring afsny wat jy nie gesaai het nie en jy wil koring bymekaarmaak waar jy nie geplant het nie.

25. Ek was bang, daarom het ek jou geld in die grond gaan begrawe en dit weggesteek. Ek gee nou vir jou die een talent terug.’

26. Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is ’n slegte en lui slaaf. Jy het geweet ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie en ek maak bymekaar waar ek nie geplant het nie.

27. Daarom moes jy my geld in die bank gesit het. Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’

28. Hy sê toe vir sy ander slawe: ‘Vat die geld weg van hom en gee dit vir die slaaf wat die tien talente het.

29. Ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee. Dan sal hy baie hê. Maar ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het.

30. Gooi hierdie slaaf wat niks beteken nie, in die donker plek. Daar sal hy huil en hard op sy tande byt van die pyn.’ ”

31. Jesus het gesê: “Wanneer Ek, die Seun van die mens, die Koning, saam met al my engele kom, dan sal Ek op my troon sit en Koning wees.

32. Dan sal al die volke voor My bymekaarkom, en dan sal Ek die mense van mekaar skei, soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei.

33. En Ek sal die skape regs langs My laat staan en die bokke links langs My.

34. Dan sal Ek, die Seun van die mens, vir die mense regs langs My sê: ‘Kom, my Vader het julle geseën. Hy wil van altyd af Koning wees oor julle, vandat Hy die aarde gemaak het. Julle moet dit nou aanvaar en bly wees daaroor.

35. Want toe Ek honger was, het julle vir My iets gegee om te eet, en toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink. Toe Ek ’n vreemdeling by julle was, het julle gesê Ek is welkom by julle.

36. Ek het nie klere gehad nie, en julle het vir My klere gegee om aan te trek. Ek was siek, en julle het vir My gesorg. Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’

37. Die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, sal dan vir My sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger en het ons vir U iets gegee om te eet? Wanneer het ons gesien U is dors en het ons vir U iets gegee om te drink?

38. Wanneer het ons gesien U is ’n vreemdeling en het ons gesê U is welkom by ons? Wanneer het ons gesien U het nie klere nie en het ons vir U klere gegee om aan te trek?

39. Wanneer het ons gesien U is siek of in die tronk, en het ons U besoek?’

Lees volledige hoofstuk Matteus 25