Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 20:16-29 Bybel vir Almal (ABA)

16. Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.”

17. Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê:

18. “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf.

19. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met ’n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.”

20. Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra.

21. Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.”

22. Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?”Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”

23. Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. My Vader het klaar besluit wie daar moet sit.”

24. Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers se ma gevra het, het hulle kwaad geword vir die broers.

25. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat oor ander mense regeer en wat hulle verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense.

26. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander dien.

27. As een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees.

28. Julle moet wees soos Ek is. Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”

29. Toe Jesus en sy dissipels uit Jerigo uitgaan, het baie mense saam met hulle geloop.

Lees volledige hoofstuk Matteus 20