Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 20:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Hulle neem toe die geld, maar hulle het by die man gaan kla

12. en gesê: ‘Hierdie werkers wat laaste begin werk het, het net een uur gewerk, maar jy het vir hulle dieselfde gegee as vir ons, ons wat die hele dag hard in die son gewerk het.’

13. Die man sê toe vir een van hulle: ‘My vriend, ek doen niks verkeerd aan jou nie. Onthou jy, jy het met my saamgestem dat jy een silwer geldstuk sal kry.

14. Jy moet jou geld neem en gaan. Ek het besluit ek gee vir die werker wat laaste begin werk het, dieselfde as vir jou.

15. Ek kan doen met my geld wat ek wil, dit weet jy. Hoekom is jy jaloers omdat ek vir hulle goed is?’

16. Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.”

17. Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê:

18. “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf.

19. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met ’n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.”

20. Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra.

21. Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.”

22. Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?”Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”

23. Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. My Vader het klaar besluit wie daar moet sit.”

24. Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers se ma gevra het, het hulle kwaad geword vir die broers.

Lees volledige hoofstuk Matteus 20