Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:25-33 Bybel vir Almal (ABA)

25. ’n Vrou wie se dogtertjie ’n onrein gees in haar gehad het, het dadelik gehoor Jesus is daar. Sy het gekom en sy het voor Jesus gekniel.

26. Sy was ’n Griekse vrou wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het aangehou om vir Jesus te vra om die duiwel uit haar dogter uit te jaag.

27. Maar Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Hulle moet eers klaar eet. Die heidene is soos die hondjies wat buite is. Hulle moet wag, want dit is nie reg om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Die vrou het vir Jesus gesê: “Dit is reg, Here, maar ook die hondjies onder die tafel eet van die krummels wat afval wanneer die kinders eet.”

29. Jesus het vir haar gesê: “Jy het goed geantwoord. Jy kan huis toe gaan, want die duiwel het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Die vrou het weggegaan. Toe sy by die huis kom, het sy gesien haar kind lê op die bed en die duiwel het klaar uitgegaan.

31. Jesus het weer weggegaan van die plekke naby die stad Tirus. Hy het deur die stad Sidon gegaan en deur Dekapolis na die See van Galilea.

32. Die mense bring toe ’n dowe man wat swaar gepraat het, na Jesus toe. Hulle het vir Jesus gesoebat om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak.

33. Jesus het die man weggeneem van die ander mense. Hy het sy vingers in die man se ore gesteek en Hy het spoeg aan die man se tong gesmeer.

Lees volledige hoofstuk Markus 7