Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne. Dit maak ’n mens onrein.”

24. Jesus het opgestaan en Hy het van daar weggegaan na plekke naby die stad Tirus. Hy het in ’n huis gaan bly, en Hy wou nie hê iemand moes weet Hy is daar nie. Maar die mense het gou uitgevind dat Hy gekom het.

25. ’n Vrou wie se dogtertjie ’n onrein gees in haar gehad het, het dadelik gehoor Jesus is daar. Sy het gekom en sy het voor Jesus gekniel.

26. Sy was ’n Griekse vrou wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het aangehou om vir Jesus te vra om die duiwel uit haar dogter uit te jaag.

27. Maar Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Hulle moet eers klaar eet. Die heidene is soos die hondjies wat buite is. Hulle moet wag, want dit is nie reg om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Die vrou het vir Jesus gesê: “Dit is reg, Here, maar ook die hondjies onder die tafel eet van die krummels wat afval wanneer die kinders eet.”

29. Jesus het vir haar gesê: “Jy het goed geantwoord. Jy kan huis toe gaan, want die duiwel het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Die vrou het weggegaan. Toe sy by die huis kom, het sy gesien haar kind lê op die bed en die duiwel het klaar uitgegaan.

31. Jesus het weer weggegaan van die plekke naby die stad Tirus. Hy het deur die stad Sidon gegaan en deur Dekapolis na die See van Galilea.

32. Die mense bring toe ’n dowe man wat swaar gepraat het, na Jesus toe. Hulle het vir Jesus gesoebat om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak.

33. Jesus het die man weggeneem van die ander mense. Hy het sy vingers in die man se ore gesteek en Hy het spoeg aan die man se tong gesmeer.

34. Jesus het opgekyk na die hemel en hard gesug. Hy het vir die man gesê: “Effata!” Dit beteken “Gaan oop!”

35. Die man kon dadelik hoor. Sy tong het los geword en hy het reg gepraat.

36. Jesus het vir die mense gesê hulle mag vir niemand daarvan vertel nie. Hy het dit baie maal vir hulle gesê, maar hulle het aangehou om vir ander mense daarvan te vertel.

37. Die mense was baie verbaas en hulle het gesê: “Alles wat Jesus gedoen het, is goed. Hy laat dowes hoor en Hy laat mense wat stom is, praat.”

Lees volledige hoofstuk Markus 7