Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:13-32 Bybel vir Almal (ABA)

13. Julle doen nooit wat God vir julle sê nie, julle doen net wat julle voorouers vir julle gesê het. Julle doen baie maal dinge soos hierdie.”

14. Jesus het weer die klomp mense na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle moet almal na My luister, sodat julle kan verstaan wat Ek sê.

15. Die kos wat by ’n mens se mond ingaan, maak hom nie onrein nie. ’n Mens word onrein van die dinge wat uit sy mond uitgaan, die dinge wat hy sê.”

17. Jesus het in die huis ingegaan, weg van die klomp mense. Sy dissipels het vir Hom gevra wat die gelykenis beteken wat Hy vertel het.

18. Jesus het vir hulle gesê: “Julle is my dissipels, maar ook júlle verstaan dit nie. Die kos wat van buite in ’n mens ingaan, kan hom nie onrein maak nie.

19. Want die kos gaan nie in sy hart in nie, maar in sy maag, en dan gaan dit weer uit sy liggaam uit.”Hierdie woorde van Jesus het beteken al die kos is rein.

20. Jesus het gesê: “Iets wat uit ’n mens uitgaan, die dinge wat hy sê, kan hom onrein maak,

21-22. want die slegte dinge wat ’n mens dink, kom van binne, uit sy hart. Dit is die slegte dinge wat ’n mens dink wat hom laat sonde doen: soos om seks te hê met iemand met wie hy nie mag nie, of te steel, of ’n mens te vermoor, of egbreuk te pleeg, of ander mense se goed te wil hê, of slegte dinge te doen, of skelm te wees, of te doen net wat hy wil, of jaloers te wees, of sleg te praat van ander mense, of hoogmoedig te wees, of nie te dink wat hy doen nie.

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne. Dit maak ’n mens onrein.”

24. Jesus het opgestaan en Hy het van daar weggegaan na plekke naby die stad Tirus. Hy het in ’n huis gaan bly, en Hy wou nie hê iemand moes weet Hy is daar nie. Maar die mense het gou uitgevind dat Hy gekom het.

25. ’n Vrou wie se dogtertjie ’n onrein gees in haar gehad het, het dadelik gehoor Jesus is daar. Sy het gekom en sy het voor Jesus gekniel.

26. Sy was ’n Griekse vrou wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het aangehou om vir Jesus te vra om die duiwel uit haar dogter uit te jaag.

27. Maar Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Hulle moet eers klaar eet. Die heidene is soos die hondjies wat buite is. Hulle moet wag, want dit is nie reg om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Die vrou het vir Jesus gesê: “Dit is reg, Here, maar ook die hondjies onder die tafel eet van die krummels wat afval wanneer die kinders eet.”

29. Jesus het vir haar gesê: “Jy het goed geantwoord. Jy kan huis toe gaan, want die duiwel het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Die vrou het weggegaan. Toe sy by die huis kom, het sy gesien haar kind lê op die bed en die duiwel het klaar uitgegaan.

31. Jesus het weer weggegaan van die plekke naby die stad Tirus. Hy het deur die stad Sidon gegaan en deur Dekapolis na die See van Galilea.

32. Die mense bring toe ’n dowe man wat swaar gepraat het, na Jesus toe. Hulle het vir Jesus gesoebat om sy hand op die man te sit en hom gesond te maak.

Lees volledige hoofstuk Markus 7