Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus en sy dissipels het by die ander kant van die see in die land van die Geraseners aangekom.

2. Toe Jesus uit die boot klim, het ’n man van die grafte af gekom en reguit na Jesus toe gegaan. Daar was ’n onrein gees in die man, die man het gedoen wat die onrein gees vir hom sê.

3. Hierdie man het tussen die grafte gewoon. Niemand kon hom vasbind nie, ook nie met ’n ketting nie.

4. Die mense het baie maal sy hande en sy voete vasgebind, maar hy het die kettings en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom vashou nie.

5. Hy het altyd tussen die grafte en in die berge geloop, elke dag en nag. Hy het geskree en hy het homself stukkend gekap met klippe.

6. Toe Jesus nog ver van hom was, het hy Jesus gesien. Hy het na Jesus toe gehardloop en hy het voor Hom gekniel.

7-8. Jesus het gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”Die man het hard geskree: “Wat wil U van my hê, Jesus, Seun van die Hoogste God? Ek vra vir U: Moenie vir my seermaak nie. Belowe dit voor God.”

9. Jesus vra toe vir hom: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “My naam is Legioen, want ons is baie onrein geeste.”

10. Hy het aangehou om vir Jesus baie ernstig te vra om die onrein geeste nie weg te stuur uit die land nie.

11. ’n Groot klomp varke het teen die berg gewei.

12. Die onrein geeste het vir Jesus gesoebat en gesê: “Stuur ons asseblief na die varke toe sodat ons in hulle kan ingaan.”

13. Jesus het gesê hulle mag gaan. Die onrein geeste het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Daar was omtrent 2 000 varke. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink.

14. Die wagters wat die varke opgepas het, het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel vir die mense in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te kyk wat gebeur het.

15. Toe kom hulle by Jesus en hulle sien vir Legioen, die man wat die klomp duiwels in hom gehad het. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het toe baie bang geword.

Lees volledige hoofstuk Markus 5