Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 4:27-39 Bybel vir Almal (ABA)

27. en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie.

28. Die grond laat die koring self groei. Eers groei ’n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit ’n groot koring-aar.

29. Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met ’n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.”

30. Jesus het gesê: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe dit is wanneer God Koning is? Watter gelykenis kan Ek gebruik?

31. Dit is soos ’n mosterd-saad. Iemand plant dit, en dit is die kleinste saadjie op die aarde.

32. Maar wanneer hy dit geplant het en die plant klaar gegroei het, dan is dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit kry groot takke en die voëls maak neste in sy skaduwee.”

33. Jesus het baie gelykenisse soos hierdie vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het gelykenisse vertel wat hulle kon verstaan.

34. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. Wanneer Hy alleen was saam met sy dissipels, dan het Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenisse beteken.

35. Daardie aand het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan oor na die ander kant van die see.”

36. Die dissipels het weggegaan van die groot klomp mense. Jesus was nog in die boot en die dissipels het Hom saamgeneem. Daar was ook ander bote saam met hulle.

37. ’n Sterk stormwind het begin waai en die branders het so hoog teen die boot begin slaan dat die boot vol water begin word het.

38. Jesus het agter in die boot op ’n kussing gelê en slaap. Die dissipels maak Hom toe wakker en hulle vra vir Hom: “Meneer, is U nie bekommerd oor ons nie? Ons sal verdrink!”

39. Jesus het opgestaan en Hy het kwaai met die wind gepraat. Hy het vir die see gesê: “Bly stil! Word kalm!”Die wind het opgehou waai en die see het stil en kalm geword.

Lees volledige hoofstuk Markus 4