Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2:8-19 Bybel vir Almal (ABA)

8. Jesus het dadelik geweet dat hulle so dink. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Hoekom wonder julle oor hierdie dinge?

9. Is dit die maklikste om vir die verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop?’

10. Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”Jesus sê toe vir die verlamde man:

11. “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”

12. Die man het opgestaan en hy het dadelik sy slaapmat geneem en uitgegaan. Al die mense het dit gesien en hulle was baie verbaas. Hulle het God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

13. Jesus het weer na die see gegaan. Baie mense het aangehou om na Hom toe te kom, en Hy het vir hulle geleer.

14. Toe Hy teruggaan en by die tolhek verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, daar sit. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!”Levi het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan.

15. Jesus het in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels geëet, want baie van hulle het gewoonlik saam met Jesus gegaan.

16. Party skrifgeleerdes was ook Fariseërs. Hulle het gesien Jesus eet saam met tollenaars en sondaars. Hulle vra toe vir Jesus se dissipels: “Hoekom eet Jesus saam met tollenaars en sondaars?”

17. Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie, Ek het gekom om sondaars te roep.”

18. Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?”

19. Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 2