Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2:2-14 Bybel vir Almal (ABA)

2. Daar het so baie mense bymekaargekom dat daar nie meer plek in die huis was nie, ook nie buite voor die deur nie. Jesus het begin om vir die mense te vertel van die goeie boodskap.

3. Daar kom toe mense wat ’n verlamde man na Hom toe bring. Vier mense het die man gedra.

4. Omdat daar so baie mense was, kon hulle nie die man tot by Jesus bring nie. Hulle het toe die dak bokant Jesus oopgebreek. Hulle het ’n gat in die dak gemaak, en toe het hulle die slaapmat waarop die verlamde man lê, deur die gat laat sak.

5. Toe Jesus sien hulle glo dat Hy die verlamde man gesond kan maak, sê Hy vir die man: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.”

6. Daar het skrifgeleerdes gesit, en hulle het gewonder:

7. “Hoekom praat hierdie man so? Hy maak of hy self God is! ’n Mens kan nie sondes vergewe nie, net God kan.”

8. Jesus het dadelik geweet dat hulle so dink. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Hoekom wonder julle oor hierdie dinge?

9. Is dit die maklikste om vir die verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop?’

10. Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”Jesus sê toe vir die verlamde man:

11. “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”

12. Die man het opgestaan en hy het dadelik sy slaapmat geneem en uitgegaan. Al die mense het dit gesien en hulle was baie verbaas. Hulle het God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

13. Jesus het weer na die see gegaan. Baie mense het aangehou om na Hom toe te kom, en Hy het vir hulle geleer.

14. Toe Hy teruggaan en by die tolhek verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, daar sit. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!”Levi het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan.

Lees volledige hoofstuk Markus 2