Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:5-21 Bybel vir Almal (ABA)

5. Pilatus was verbaas, want Jesus het niks meer gesê nie.

6. Pilatus het gewoonlik op die Paasfees een gevangene uit die tronk laat kom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees.

7. Een van die mense in die tronk was Barabbas. Hy was daar saam met ander mense. Hulle het mense opstandig gemaak teen die regering en hulle het ’n man vermoor.

8. ’n Groot klomp mense het na Pilatus toe gegaan en hulle het vir hom gevra om weer iemand uit die tronk te laat kom, soos hy altyd gedoen het.

9. Pilatus het vir hulle gevra: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode uit die tronk laat kom?”

10. Pilatus het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was.

11. Die priesterleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat kom, nie vir Jesus nie.

12. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met die man wat julle die koning van die Jode noem?”

13. Die mense het geskree: “Kruisig hom!”

14. Pilatus het aangehou om vir hulle te vra: “Wat het hy verkeerd gedoen?”Maar die mense het baie hard geskree: “Kruisig hom!”

15. Pilatus wou die klomp mense tevrede maak en daarom het hy vir Barabbas uit die tronk laat kom. Hy het vir Jesus met ’n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig.

16. Die soldate het Jesus gevat na ’n plek voor die Romeinse goewerneur se huis. Hulle het al die ander soldate geroep om saam te gaan.

17. Hulle het pers klere om Jesus gehang. Hulle het ’n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit.

18. Die soldate het met Hom begin praat soos met ’n koning. Hulle het gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!”

19. Hulle het aangehou om Jesus met ’n dik riet op sy kop te slaan. Hulle het op Hom gespoeg en voor Hom gekniel soos hulle voor ’n koning kniel.

20. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers klere uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek.Die soldate het Jesus weggevat sodat hulle Hom kon kruisig.

21. ’n Man het by hulle verbygeloop. Sy naam was Simon, hy was van die stad Sirene. Hy was Aleksander en Rufus se pa. Hy het van buite in die stad ingekom. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra.

Lees volledige hoofstuk Markus 15