Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vroeg die volgende oggend het die priesterleiers ’n vergadering van die hele Joodse Raad gehou. Die familieleiers en die skrifgeleerdes was ook daar. Hulle het Jesus met boeie vasgemaak en hulle het Hom weggevat en vir Pilatus gegee sodat hy vir Jesus kon straf.

2. Pilatus het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus antwoord hom toe: “Jy sê self Ek is.”

3. Die priesterleiers het Jesus oor baie dinge beskuldig.

4. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoekom sê jy niks? Hulle beskuldig jou oor so baie dinge!”

5. Pilatus was verbaas, want Jesus het niks meer gesê nie.

6. Pilatus het gewoonlik op die Paasfees een gevangene uit die tronk laat kom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees.

7. Een van die mense in die tronk was Barabbas. Hy was daar saam met ander mense. Hulle het mense opstandig gemaak teen die regering en hulle het ’n man vermoor.

8. ’n Groot klomp mense het na Pilatus toe gegaan en hulle het vir hom gevra om weer iemand uit die tronk te laat kom, soos hy altyd gedoen het.

9. Pilatus het vir hulle gevra: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode uit die tronk laat kom?”

10. Pilatus het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was.

11. Die priesterleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat kom, nie vir Jesus nie.

12. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met die man wat julle die koning van die Jode noem?”

13. Die mense het geskree: “Kruisig hom!”

14. Pilatus het aangehou om vir hulle te vra: “Wat het hy verkeerd gedoen?”Maar die mense het baie hard geskree: “Kruisig hom!”

15. Pilatus wou die klomp mense tevrede maak en daarom het hy vir Barabbas uit die tronk laat kom. Hy het vir Jesus met ’n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig.

16. Die soldate het Jesus gevat na ’n plek voor die Romeinse goewerneur se huis. Hulle het al die ander soldate geroep om saam te gaan.

Lees volledige hoofstuk Markus 15