Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:32-39 Bybel vir Almal (ABA)

32. Dit is hoekom Ek saam met daardie mense eet. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie. Nee, Ek het gekom om sondaars te roep sodat hulle kan lewe soos God wil hê.”

33. Party mense het vir Jesus gesê: “Johannes die Doper se dissipels vas baie maal en bid altyd wanneer hulle moet. Die Fariseërs se dissipels doen dit ook. Maar jou dissipels eet en drink.”

34. Jesus sê toe vir hulle: “Julle kan nie vir mense by ’n troue sê hulle mag niks eet nie. Die bruidegom is dan by hulle.

35. Maar daar sal ’n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie. Dan sal hulle vas.”

36. Jesus vertel toe vir hulle ’n gelykenis. Hy het gesê: “’n Mens skeur nie ’n lap uit nuwe klere om ou klere reg te maak nie, want dan het hy die nuwe klere ook geskeur. En ’n nuwe lap pas nie by ou klere nie.

37. En ’n mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. Die nuwe wyn sal die ou velsakke laat bars, en dan loop die wyn uit en die velsakke is stukkend.

38. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe velsakke.

39. Onthou ook: As ’n mens eers ou wyn geproe het, dan wil jy nie nuwe wyn drink nie, want die ou wyn smaak lekkerder.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 5