Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:1-18 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die hele Joodse Raad het toe opgestaan en hulle het vir Jesus na Pilatus toe geneem.

2. Hulle het begin om Jesus te beskuldig. Hulle het gesê: “Ons het uitgevind dat hierdie man ons volk opstandig maak. Hy sê die mense moenie belasting betaal aan die keiser nie. Hy sê ook hy is ’n koning, die Christus.”

3. Pilatus het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Toe antwoord Jesus vir Pilatus: “Jy sê self Ek is.”

4. Pilatus het vir die priesterleiers en die mense gesê: “Ek dink nie hierdie man het enige iets verkeerd gedoen nie.”

5. Maar die priesterleiers het aangehou om te sê: “Hy maak die mense opstandig, want hy het begin om vir die mense in Galilea verkeerde dinge te leer, en nou doen hy dit ook in die hele land Judea.”

6. Toe Pilatus dit hoor, vra hy: “Kom hierdie man van Galilea?”

7. En toe hy hoor dat Jesus van Galilea kom waar Herodes koning is, het hy vir Jesus na koning Herodes toe gestuur. Herodes was ook vir die Paasfees in Jerusalem.

8. Herodes was baie bly om Jesus te sien, want hy wou graag vir Jesus ontmoet omdat hy baie van Hom gehoor het. Herodes het gehoop Jesus doen ’n wonderteken voor hom.

9. Herodes het vir Jesus lank uitgevra, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.

10. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes was ook daar. Hulle het Jesus oor baie dinge beskuldig by Herodes.

11. Toe het Herodes en sy soldate vir Jesus verneder en Hom gespot. Hulle het vir Hom deftige klere aangetrek en Herodes het Hom teruggestuur na Pilatus toe.

12. Daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was hulle vyande van mekaar.

13. Toe het Pilatus die priesterleiers en die leiers van die volk en al die mense bymekaargeroep.

14. Hy het vir hulle gesê: “Julle het vir my hierdie man gebring en gesê hy maak die mense opstandig. Ek het geluister na wat hy sê, maar ek kon niks kry wat wys dat hy skuldig is nie.

15. Herodes kon ook niks kry wat hy verkeerd gedoen het nie, want hy het vir Jesus teruggestuur na my toe. Jesus het niks verkeerd gedoen nie, ek kan hom nie laat doodmaak nie.

16. Daarom sal ek hom laat slaan, en dan sal ek hom uit die tronk laat kom.”

18. Maar toe het almal geskree: “Jy moet hierdie man wegvat. Ons wil hê jy moet vir Barabbas uit die tronk laat kom.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 23