Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:41-51 Bybel vir Almal (ABA)

41. Jesus het ’n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos ’n mens met ’n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid

42. en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”

43. Toe kom daar ’n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee.

44. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup.

45. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan. Hy het by die dissipels gekom en gesien hulle slaap vas. Hulle was moeg, want hulle was baie bekommerd oor Jesus.

46. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie.”

47. Jesus was besig om te praat, toe kom daar ’n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen.

48. Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”

49. Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?”

50. Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap.

51. Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22