hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2 Bybel vir Almal (ABA)

Die geboorte van Jesus Christus

1. In daardie tyd het keiser Augustus gesê al die mense oor wie hy regeer, moet hulle laat registreer.

2. Sirenius was die goewerneur wat in daardie tyd oor die provinsie Sirië regeer het.

3. Al die mense het gegaan om te registreer, elkeen het gegaan na die stad waar sy familie altyd gewoon het.

4. Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid.

5. Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan.

6. Toe hulle in Betlehem was, het dit tyd geword dat Maria haar baba moes kry.

7. Haar Seun is gebore. Hy was haar eerste kind. Sy het Hom toegedraai in doeke en Hom neergesit in ’n krip, want daar was nie vir Josef en Maria plek waar die ander mense gebly het nie.

Die skaapwagters en die engele

8. Daar was skaapwagters buite in die veld naby Betlehem. Hulle het in die nag hulle skape opgepas.

9. ’n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang.

10. Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle ’n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor.

11. Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here.

12. Julle sal weet dit is Hy wanneer julle ’n baba sien wat toegedraai is en in ’n krip lê.”

13. Skielik was daar saam met die engel nog baie ander engele uit die hemel. Hulle het God geprys en gesê:

14. Prys God in die hoogste hemel.By die mense op die aardesal daar vrede wees,by die mense vir wie Hy lief is.

15. Die engele het van die skaapwagters weggegaan na die hemel. Toe het die skaapwagters vir mekaar gesê: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem sodat ons kan sien wat gebeur het. Dan sal ons sien wat die Here vir ons vertel het.”

16. Die skaapwagters het haastig daarnatoe gegaan en hulle het vir Maria en Josef gekry en ook die baba wat in die krip lê.

17. Toe die skaapwagters dit alles sien, het hulle vir die mense vertel wat die engel vir hulle gesê het oor hierdie Kindjie.

18. Almal wat dit gehoor het, was verbaas oor wat die skaapwagters vir hulle vertel het.

19. Maar Maria het alles onthou en baie maal daaroor gedink.

20. Die skaapwagters het teruggegaan. Hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit het alles gebeur soos die engel vir hulle vertel het.

Jesus word besny

21. Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het.

22. Moses het in sy wette geskryf wat ’n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy ’n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy.

23. Die wet van die Here sê: Julle moet die eerste seunvan elke vrou aan die Here wy.

24. Josef en Maria het ook ’n offer gebring, want die wet van die Here sê ook: Die vrou moet ’n offervir die Here bring.Sy moet twee tortelduiweof twee jong duiwe offer.

Simeon en Anna by die tempel

25. Daar was ’n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon.

26. Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf.

27. Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê.

28. Simeon het die Kindjie in sy arms gehou en hy het God geprys en gesê:

29. Here, U het gedoenwat U vir my gesê het.Nou kan ek sterf, ek is tevrede,

30. want ek het selfdie Redder gesien.

31. U het Hom vir ons gestuur,en al die volke sal Hom sien.

32. Al die volke sal sien Hy is die ligen hulle sal u volk Israel eer.

33. Josef en Maria was baie verbaas oor wat Simeon gesê het oor Jesus.

34. Simeon het hulle geseën en hy het vir Maria, Jesus se ma, gesê: “Hierdie Kind het gekom, Hy sal wees soos ’n klip waaroor baie mense val, maar Hy sal ook baie mense red. Hy is die Redder, maar nie al die mense sal dit glo nie.

35. Daarom, Maria, sal jy baie swaar kry. Die mense sal oor Hom stry en so sal almal weet wat die mense oor hierdie Kind dink.”

36. Dieselfde dag was daar ook ’n profeet in die tempel. Haar naam was Anna en sy was baie oud. Sy was ’n dogter van Fanuel, uit die Aser-stam. Sy het getrou toe sy jonk was, en haar man het ná sewe jaar gesterf.

37. Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid.

38. Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.

Josef en Maria gaan terug na Nasaret

39. Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea.

40. Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom.

Jesus by die tempel

41. Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.

42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.

43. Toe die fees verby was, het Josef en Maria teruggegaan na Nasaret, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie geweet nie.

44. Toe hulle sien Jesus is nie by hulle nie, het hulle gedink Hy is by die ander mense wat saam teruggegaan het. Hulle het ’n dag lank geloop en toe het hulle vir Jesus begin soek by hulle familie en vriende.

45. Hulle kon Hom nie kry nie en hulle het teruggegaan na Jerusalem om Hom daar te gaan soek.

46. Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra.

47. Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord.

48. Toe Jesus se ouers Hom sien, was hulle baie bly, en sy ma het vir Hom gesê: “My Kind, hoekom het jy dit gedoen? Jou pa en ek het jou gesoek en ons was baie bekommerd.”

49. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom het julle My gesoek? Het julle nie geweet nie? Ek moet hier wees, Ek moet oor my Vader praat.”

50. Hy het dit vir hulle gesê, maar hulle het dit nie verstaan nie.

51. Jesus het toe saam met sy ouers na Nasaret gegaan, en Hy was gehoorsaam aan sy ouers. Sy ma het alles onthou wat gebeur het, en sy het baie maal daaroor gedink.

52. Jesus het groot geword en nog meer wysheid gekry. God en die mense was lief vir Hom.