Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 19:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het in Jerigo ingegaan en Hy het deur die stad geloop.

2. Daar het ’n man gewoon, sy naam was Saggeus. Hy was die hoof van die tollenaars en hy was ’n ryk man.

3. Hy wou graag vir Jesus sien, hy wou sien wie Hy is. Maar omdat daar so baie mense was, kon Saggeus nie vir Jesus sien nie, want Saggeus was ’n kort mannetjie.

4. Toe het Saggeus verder op die pad gehardloop en hy het in ’n wildevye-boom geklim sodat hy vir Jesus kon sien, want Jesus moes daar verbyloop.

5. Toe Jesus by die boom kom, het Hy opgekyk en Hy het vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim gou af, want Ek moet vandag in jou huis bly.”

6. Saggeus het gou afgeklim en hy het vir Jesus in sy huis ingenooi. Saggeus was baie bly dat Jesus in sy huis wou bly.

7. Maar almal wat dit gesien het, was ontevrede. Hulle het gesê: “Jesus het by ’n sondige man se huis ingegaan om daar te bly.”

8. Saggeus het voor Jesus gaan staan en gesê: “Here, ek belowe ek sal die helfte van alles wat ek het, vir die arm mense gee. En as ek te veel geld van iemand gevat het, sal ek vier maal meer teruggee.”

9. Jesus sê toe vir Saggeus en vir almal wat ontevrede was: “Vandag het God die mense in hierdie huis gered, want Saggeus is ook van die nageslag van Abraham.

10. Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.”

11. Jesus het nog iets gesê vir die mense wat na Hom geluister het. Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel. Hy het dit gedoen omdat Hy naby Jerusalem was en omdat die mense gedink het wanneer Jesus in Jerusalem kom, dan sal God dadelik Koning word en regeer. Maar Jesus wou vir hulle reg leer.

12. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Daar was ’n man, hy was ’n koning se seun. Hy het na ’n ver land gegaan om eers daar koning te word. Daarna sou hy terugkom en koning wees oor sy eie mense.

13. Toe roep hy tien van sy slawe en hy gee vir hulle tien geldstukke en sê: ‘Julle moet met hierdie geld baie dinge koop en dit weer verkoop en meer geld kry totdat ek terugkom.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 19